Kinders se skildertalent by uitstalling gewys
Klasse by Petit Artiste begin weer op 6 Januarie.

Die uitsonderlike skildertalent van jong kunstenaars van Parys is gesien by ‘n uitstalling van Petit Artiste wat by Art & Soul gehou is. Die 86 kunswerke wat gesien is, is die handewerk van Petit Artiste se 30 studente tussen die ouderdom van vier en 13 jaar, wie se
talent die afgelope jaar deur Antoilene du Toit geslyp is.



Du Toit, ‘n gebore en getoë Parysenaar, het Petit Artiste in 2021 begin met vier kinders en getalle het gou gegroei.
Sy is self ook ‘n talentvolle skilder, en vertel dat sy baie geleer het by kunstenaar André Espag, maar dat die ‘university of YouTube’
haar ook ‘n paar fynere kunsies met die kwas geleer het.
Sy het haar aanvanklik as stoetplaas bestuurder bekwaam, toe fotografie studeer, en haar later ook as apteekassistent bekwaam. Haar skildertalent het iemand eendag die vraag laat vra waarom sy nie kinders leer skilder nie, en het sy haar werk by die apteek bedank en Petit Artiste begin.
Sy studeer tans om haar as kunsberader te bekwaam, en gee tussendeur ook kitaarlesse.

Klasse by Petit Artiste begin weer op 6 Januarie en word soggens en
smiddae op Maandae, Dinsdae, Woensdae en Vrydae aangebied.
Vanjaar was die derde jaar wat daar ‘n uitstalling van die jong kunstenaars se werk gehou is.






