Pitte gekoop, geplant vir Goliat van Gat Pampoenfees
Vanjaar is daar ook geleentheid vir ander groente om ‘n wenprys of twee te wen. So bring jou bieliekomkommer of reusetamatie en kom skryf in.
Die gewilde Goliat van Gat Pampoenfees 2025 sal op 15 Maart by die Pretoria Ou Motorklub, Silverton, gehou word. Pitte is gekoop, geplant, gewater en word nou vertroetel in die hoop om die 2025 wenpampoen te wees. Die vorige rekord was 890kg.
Henri Combrink, organiseerder van die Goliat van Gat Pampoenfees, sê daar heers reeds groot opgewondenheid oor 2025 se kompetisie.
Die tien grootste pampoene wat vir die kompetisie inskryf, sal pryse wen. Daar is ook ’n spesiale kategorie vir kinders onder 16 jaar, waar die top drie pampoene in die junior afdeling ook prysgeld en erkenning ontvang. Maar dit is nie al nie! Daar sal ook pryse wees vir die mooiste en die lelikste pampoene.
Vanjaar is daar ook geleentheid vir ander groente om ‘n wenprys of twee te wen. So bring jou bieliekomkommer of reusetamatie en kom skryf in.
As jy nie ‘n groenteboer is nie, maar ‘n handige kok, is daar vir jou ook die geleentheid om lekker pryse te wen. Inskrywings is oop vir enige pampoengereg wat jy tuis kan maak – of dit nou pampoenpastei, pampoentertjies, pampoenpoffers of enigiets anders is!
Daar sal ook allerlei stalletjies wees wat lekker eet- en drinkgoed verkoop. Aansoeke vir stalletjies is nog oop.
So, of jy nou jou pampoen wil inskryf, ’n stalletjie wil bespreek of net die wonderlike gemeenskap wil beleef, die Goliat van Gat Pampoenfees op 15 Maart 2025 is die plek om te wees.
Enige navrae kan aan Henri Combrink gerig word by 082 552 9428 of culliboer@gmail.com.