Local newsNews

Tienerselfdood: Praat oor gevoelens

Selfdood onder tieners is 'n  hartseer werklikheid wat gesinne en gemeenskappe diep raak.

‘n  Tienerselfdoodvoorkomingsweek word gehou van 9 tot 16 Februarie om bewustheid te skep van die stappe wat gedoen kan word om selfdood onder tieners te voorkom.

Die veldtog moedig jongmense aan om hulp te soek wanneer hulle oorweldig voel deur hulle emosies en uitdagings. Vanjaar se tema is Jou gevoelens is belangrik kom ons praat daaroor. Dit beklemtoon hoe belangrik oop gesprekke oor emosionele welstand is.

“Selfdood onder tieners is ‘n  hartseer werklikheid wat gesinne en gemeenskappe diep raak. Dit is dikwels ‘n ongemaklike onderwerp, maar ons kan dit nie ignoreer nie. Om ‘n verskil te maak, moet ons die waarskuwingstekens herken en die regte ondersteuning bied aan dié wat dit die nodigste het,” sê Maruné van Vreden, ‘n maatskaplike werker by Helpende Hand in Mpumalanga.

Volgens inligting van die nasionale departement van gesondheid is sowat 7 426 kinders onder die ouderdom van 18 tussen April en Desember 2024 vir selfdoodpogings behandel. “Ons wil hê kinders moet weet hulle is belangrik en nie alleen nie. Selfdood is ‘n werklike stryd vir baie tieners, maar hulp is altyd beskikbaar. As jy sukkel om enigiets emosioneel, geestelik of fisies te
hanteer, is daar mense wat omgee en wil help,” sê Louise Zitzke, maatskaplike werker by Helpende
Hand.

Zitzke beklemtoon verder dat selfdoodgedagtes nie ‘n teken van swakheid is nie, maar eerder ‘n
aanduiding dat iemand hulp nodig het en verdien om dit te kry. “Praat daaroor. Of dit met ‘n vriend, ‘n volwassene of ‘n professionele persoon is, elke gesprek is ‘n tree nader aan genesing.”

Een van die grootste tekens dat ‘n tiener om hulp roep, is as hulle hulself doelbewus beseer. Felicia Richardson van Pretoria is ‘n  vrou wat self deur selfbesering as ‘n tiener gegaan het en nou haar ervaring en insig deel om ander te help. Sy het ‘n moeilike jeug gehad en verskeie traumas beleef. Dit het haar tot selfbesering gedryf. Vandag is sy gelukkig getroud, ‘n ma, en ‘n  internasionaal
geakkrediteerde lewensafrigter wat mense help om deur trauma en uitdagings met geestesgesondheid te werk. Sy deel dié wenke.

Tekens waarvoor ouers op die uitkyk moet wees
1. Fisiese tekens
o Snye, brandmerke, kneusplekke of skrape, dikwels op verborge plekke soos arms, bene of die buik
o Tieners wat in warm weer langmouklere of langbroeke dra om beserings te verberg

2. Emosionele en gedragsveranderinge
o Skielike buierigheid, depressie of onttrekking van familie en vriende
o Verlaagde selfbeeld en selfwaarde
o Verandering in slaappatrone of eetgewoontes

3. Veranderinge in sosiale interaksie
o Vermyding van aktiwiteite wat hulle voorheen geniet het
o Vriendskap met groepe wat selfbesering as ‘n manier van hantering beskou
o Gebrek aan ‘n ondersteuningsnetwerk of isolasie

4. Ander waarskuwingstekens
o Gereelde praatjies oor gevoelens van hulpeloosheid of waardeloosheid
o Pyn as ‘n manier om emosionele stres te hanteer
o Verhoogde belang in donker of depressiewe inhoud op sosiale media

Richardson beklemtoon dat ouers nie hulle kinders moet veroordeel nie, maar eerder begrip en ondersteuning moet toon en hulp kry indien nodig. Terapie, stokperdjies, positiewe invloede, gesonde eetgewoontes en kwaliteittyd saam met die tiener is van die stappe wat kan help met genesing.

Besoek Richardson se webwerf by www.transformationcoachfelicia.com vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button