Boom swig in nat weer
Met die afgelope paar dae se reën vanaf die naweek is daar teen Dinsdagmiddag in Parys reeds tussen 70 en 120mm reën gemeet.
‘n Boom by die parkering voor Moments Square in Parys se hoofstraat het Dinsdagmiddag geswig in die nat weer, en op die Toyota Yaris van Simone Peter geval.
Simone wat ook die eienaar van Inkd Tattoo Studio by Moments Square is, vertel dat die boom vroeër al oorgeleun het, en die aanhoudende reën sedert Sondag vermoedelik veroorsaak het dat die boom geval het.

Behalwe vir die duik waar die boom haar motor getref het, is daar nie ander skade nie, en was daar gelukkig niemand in die motor nie.
Gewoonlik parkeer sy of haar pa, wat ook mede-eienaar van die sentrum is, altyd op dié spesifieke parkering.
Prinsloo Recovery het na die voorval gehelp om die pad af te sper sodat die motor weggetrek kon word onder die boom, waarna dit heeltemal omgeval het.


Met die afgelope paar dae se reën vanaf die naweek is daar teen Dinsdagmiddag in Parys tussen 70 en 120mm reën gemeet. Vredefort het die afgelope week tot Dinsdag 130mm reën gehad terwyl daar by plekke in die Vredefort Koepel net vir Dinsdag alleenlik 110mm reën gemeet is.
Verskeie paaie was met die swaar reën onder water waaronder die R59 tussen Parys en Vredefort net voor jy Vredefort inry, terwyl daar ook gewaarsku is oor water teen die Schonkenville-pad. Berigte is ook ontvang van huise in die nuwe uitbreiding van Mokwallo, en by Sandersville wat onder water was. Vaaldam was Dinsdag 63.34% vol. Bloemhofdam staan op 72.63%.



