Publieke insette gevra na kennisgewing oor Ngwathe-skuld
Eskom het verlede week in 'n openbare kennisgewing sy voorgenome aksie teen vier Vrystaatse munisipaliteite waaronder ook die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit uiteen gesit.

Ngwathe se skuldlas aan Eskom beloop nou R2.3 miljard wat nie die lopende rekening van R35 901 986 insluit wat teen 29 Januarie betaal moes wees nie. Die kragvoorsiener het verlede week in ‘n openbare kennisgewing sy voorneme om teen 17 April kragvoorsiening aan die munisipaliteit te onderbreek of te staak, uiteengesit sou daar nie aan Eskom se eise vir betaling gehoor gegee word nie.
Geleentheid is in die kennisgewing gegee vir enigeen wat deur die moontlike aksie geraak kon word, om voorstelle en/of kommentaar skriftelik te stuur na 120 Henry Straat, Westdene, Bloemfontein, of per e-pos na FSNgwathe@eskom.co.za, teen nie later nie as 13 Maart. Eskom se finale besluit oor die kwessie sal op 2 of 3 April bekendgemaak word
Eskom stel dit in die kennisgewing duidelik dat hy nie finansieël volhoubaar kan funksioneer sonder betaling van munisipaliteite aan wie krag voorsien word nie, en dat munisipaliteite die kragvoorsiener alreeds gesamentlik meer as R90 miljard skuld.
Eskom sê verder dat versuim van munisipaliteite om hul kragrekening aan Eskom te betaal, strydig is met die kragvoorsieningsooreenkoms wat Eskom met munisipaliteite het, en hul lisensievoorwaardes.
Die voorgenome aksie word as laaste uitweg beskryf.
Ngwathe se stryd om Eskom te betaal kom van 2009.
In Maart 2022 het die munisipaliteit aangedui dat hy nie sy winterrekening aan Eskom kan betaal nie wat hoër is as die somertarief wat Ngwathe aan Eskom moet betaal.
“Die munisipaliteit het toe Eskom se hulp met meteroudits gevra, maar het Ngwathe nie die geld gehad vir die meteroudit-projek nie,” sê Eskom.
In 2023 het die nasionale Tesourie ‘n skuldverligtingsprogram vir munisipaliteite bekendgestel binne die raamwerk van die Munisipale Finansiële Wet van 2003. Munisipaliteite kon toe aansoek doen vir skuldverligting waarvolgens Eskom kwalifiserende munisipaliteite se skuldlas oor ‘n drie jaar termyn sou afskryf, mits aan streng voorwaardes voldoen word waaronder die vereiste dat munisipaliteite getrou hul lopende Eskom rekening moes betaal. Versuim daartoe sou dan die voordele van die skuldverligting onmiddellik laat verval, en Eskom noodsaak om sy kredietkontrole en skuldbestuursbeleid toe te pas waarvolgens ‘n munisipaliteit dan die agterstallige bedrae, rentes en boetes aan Eskom sou moes betaal. Regsprosedures kon dan ook ingestel word ten opsigte van die agterstallige skuld, rentes en boetes.
Ngwathe is op 1 Desember 2023 aanvaar vir die skuldverligtingsprogram, maar kon sedertdien nie die voorwaardes van toelating tot die program nakom nie.
Eskom sê in die kennisgewing dat hy Ngwathe en die Tesourie op 16 Februarie 2024 kennis gegee het dat die voorwaardes van die skuldverligtingsprogram nie nagekom word nie. Eskom het toe betaling van Ngwathe se Desember 2023 rekening ge-eis en gevra dat die Nasionale Tesourie ‘n kennisgewing uitreik aan Ngwathe om sy deelname aan die skuldverligtingsprogram te eindig sou betaling van die Desember 2023 rekening nie ontvang word nie.
In Maart 2024 het die Nasionale Tesourie met Eskom, die Vrystaatste provinsiale Tesourie, Cogta en Vrystaatse munisipaliteite vergader om munisipaliteite se nie-nakoming van die voorwaardes van die skuldverligtingsprogram te bespreek.
Desnieteenstaande het die munisipaliteit steeds nie daarin geslaag om sy geldelike verpligtinge teenoor Eskom na te kom nie. Van die Desember 2024-rekening van R35 901 986 het Ngwathe ‘n skamele R1 000 000 betaal. Maar Ngwathe sê kragdiefstal en verbruikers se versuim om te betaal vir hul kragverbruik veroorsaak dat dié munisipaliteit nie sy skuldverpligting aan Eskom kan nakom nie. Die munisipale bestuurder het aangedui dat kennisgewings reeds aan wanbetalers – huishoudings sowel as besighede – bedien is in lyn met die munisipaliteit se goedgekeurde kredietkontrole beleid.
Die munisipaliteit het ook gesê dat ‘n meteroudit gedoen is, en dat waar gevind is dat meters gebrug of foutief is, slimmeters geïnstalleer gaan word om kragdiefstal te voorkom.
Die munisipaliteit sé hy het ‘n maandelikse tekort van ongeveer R30m op sy Eskom rekening met net sowat R10m ‘n maand wat ingevorder word uit elektrisiteitsverkope.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit sê dat verbruikers sal moet betaal vir krag om te verseker dat die munisipaliteit op sy beurt sy skuldverpligting aan Eskom kan eerbiedig.



