Local newsNews

Minister praat oor VS se kragskuld

Die Minister van Elektrisiteit en Energie, Dr. Kgosientsho Ramokgopa, is duidelik daaroor dat munisipaliteite moet erns maak met skuldinvordering.

Vrystaatse munisipaliteite wat Eskom enorme bedrae skuld, en waarteen die kragreus verlede week in publieke kennisgewings aangedui het hy gaan optree, kan dalk gedwing word om gelde wat vir elektrisiteit ontvang word in afsonderlike rekeninge in te betaal wat uitsluitlik vir betaling van dié munisipaliteite se Eskom-rekeninge gebruik mag word.

Dit, en die installering van slimmeters wat peuterbestand is om kragdiefstal te keer, is van die drastiese maatreëls wat Maandag deur die Minister van Elektrisiteit en Energie, Dr. Kgosientsho Ramokgopa, genoem is om in te gryp by munisipaliteite se kragskuld.

Eskom het in die publieke kennisgewings wat verlede week geplaas is sy voorneme duidelik uitgespel om teen 17 April elektrisiteitsvoorsiening aan vier Vrystaatse munisipaliteite te verminder, en/of te onderbreek, en/of te staak weens volgehoue wanbetaling deur dié munisipaliteite wat Eskom reeds gesamentlik R26 miljard skuld.

Daar is ook met die kennisgewing geleentheid gegee vir mense vir geskrewe voorstelle en kommentaar wat ontvang moet word nie later nie as 13 Maart.

Eskom sal volgens die kennisgewing sy finale besluit oor die munisipaliteite se lot teen 2 of 3 April bekendmaak.

Die vier munisipaliteite sluit in die Ngwathe Plaaslike munisipaliteit wat die dorpe Parys, Vredefort, Heilbron, Koppies en Edenville bedien, asook die Nala, Moqhaka en Marilonyana munisipaliteite, wat op hul beurt die dorpe Bothaville, Wesselsbron, Kroonstad, Steynsrus, Brandfort, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg bedien.

Ngwathe se skuldlas aan Eskom beloop reeds R2.3 miljard, wat die huidige rekening van R35 901 986 wat teen 29 Januarie betaal moes wees, uitsluit, aldus die kennisgewing.

Desondanks vorige pogings om in te gryp en betalingsooreenkomste met die genoemde munisipaliteite te kry, slaag dié munisipaliteite steeds nie daarin om hul skuldverpligtinge aan Eskom na te kom nie, is gesê.

Die minister het Maandag in samesprekings met die Vrystaatse Provinsiale Regering en plaaslike munisipale bestuur verwys na ingrypingsooreenkomste met die munisipaliteite wat geraak word.
Hy het ook genoem dat kragdiefstal een van die groot redes is waarom munisipaliteite soveel skuld by Eskom het, en dat slimmeters by huise, sakeondernemings, regeringsgeboue en selfs munisipaliteite geïnstalleer sal word om die diefstal van krag te voorkom.

Die minister was duidelik daaroor dat munisipaliteite erns moet maak met skuldinvordering.

Munisipale bestuurders en burgemeester is genooi na Maandag se vergadering oor die kragskuld in ‘n poging deur die regering om te verseker dat munisipaliteite hul verantwoordelikhede teenoor die kragvoorsiener nakom.

Die vergadering is ook bygewoon deur die Vrystaatse premier, Macqueen Letsoha-Mathae, sowel as die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, Saki Mokoena, en die LUR vir finansies, toerisme en ekonomiese ontwikkeling.

Ramokgopa sê daar moet gekyk word na volhoubare kragvoorsiening aan mense in alle inkomstegroepe.

Hy het ook verwys na die ooreenkoms wat alreeds met die Maluti-A-Phofung munisipaliteit gesluit is en waar ingrypingsmaatreëls reeds in plek gestel is vir die installering van onder meer slimkragmeters en ‘n afsonderlike rekening vir elektrisiteitsinkomste waaruit die munisipaliteit Eskom moet betaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button