Bykans R100 000 se dwelms op N1 gekry
Die polisie het twee verdagtes buite Kroonstad in hegtenis geneem tydens die intelligensie gedrewe operasie Vala Ungodi
‘n Totaal van 26,35kg se Khat met ‘n geraamde straatwaarde van R91 200 is gekonfiskeer op die N1 naby Kroonstad tydens ‘n intelligensie gedrewe polisie operasie, het Luitenant-kolonel Thabo Covane gesê.
Die dwelms wat van Gauteng per vragmotor vervoer is, was bestem vir die Wes-Kaap.
Polisielede het die ses bokse Khat versteek agter die vragmotorbestuurder se sitplek gekry. Die 39-jarige vragmotorbestuurder en ‘n 32-jarige vrou wat saam met hom in die vragmotor was, is gearresteer.
Hulle sal voor die hof in Kroonstad verskyn op klagte van dwelmhandel.

Die arrestasie volg nadat ‘n 40-jarige buitelander ook vroeër vandeesweek in Kroonstad gearresteer is deur die Kroonstadse K9-eenheid en lede van die polisie se Misdaad Intelligensie Eenheid toe inligting opgevolg is oor ‘n man wat in besit van dwelms is by ‘n woonstel in Kroonstad.
Daar is beslag gelê op die dwelms Crystal Meth, CAT en kokaïne met ‘n straatwaarde van R30 000.



