Evas gee kreatiwiteit vrye teuels met versierkuns
Sien jou by die volgende saamkuier op 8 Maart.
As jy al ooit ‘n diverse versameling vroue wou sien saamwerk soos een man (vrou?), sal jy jou hande saamslaan vir wat gedoen word by ‘n Eva-oggend in
Parys.
Die vroue wat jy hier sien kom van oor die hele dorp en bied spontaan aan om hul kennis en kundigheid te deel.
Die Eva-oggende is die breinkind va ‘n handvol vroue wat die Bybelse opdrag dat ouer vroue die jongeres moet leer, ernstig opgeneem het.
Diè droom het sò radikaal uitgeblom dat daar in twee sessies op 8 Februarie die kuns van Royal Icing geleer is. En hoeveel pret was dit nie!
Onder die kundige oog van die talentvolle Alicia Stevens van The Black Mulberry is droommooi versierde koekies opgetower, en die jongspan het lustig meegedoen. By die Evas is niemand té oud of té jonk vir die saamleer en saamkuier nie.



Projekte wat die Evas vanjaar sal aanpak is onder meer Basiese Skilderkuns wat aangebied sal word deur een van ons eie talentvolle Parys kunsternaars, kleurkombinasies, asook die maak van was blomme en kerse. Daar is boonop geleentheid om te leer hoe om jou eie mayonnaise te maak, japtrap etes voor te berei, en vele meer.
Die Evas kom een Saterdag ‘n maand van 10:00 tot 12:00 byeen. Die byeenkomste se datums en meer inligting vir elke projek word op ‘n WhatsApp groep gedeel. As jy nog nie op die kontaklys is nie doen
dit vandag nog. Kontak Susan Britz by 061 091 4609, of Elmarie Greeff by 082 321 1510 vir meer inligting, en om op die Evas-groep gevoeg te word. Deelname is gratis en diè wat spontaan (en diskreet) ‘n donasie skenk, sorg dat kostes gedek word. Moet egter nie dat ‘n tekort aan finansies jou weerhou om deel te neem nie.
Sien jou by die volgende saamkuier op 8 Maart met die kreatiewe tema, Palet Perfek waar ons saam leer om kleur beter te verstaan – die hoeksteen van alle kreatiewe bedrywighede.


Foto’s: Verskaf



