‘Die oogmerk is altyd om mense veilig te hou’
Laagwaterbrûe, sê Hugh du Preez, hou altyd 'n gevaar in, veral naweke in 'n dorp soos Parys wat teenaan die Vaalrivier lê met talle besoekers wat dan na die dorp kom. Hugh is een van die land se mees ervare en hoogs gekwalifiseerde riviergidse en witwater opleidingsinstrukteurs, en het die professionele vloedwater reddingskursus in Parys aangebied.
‘n Groep polisieduikers en munisipale lewensredders van IPS Search & Rescue, Kwadakuza Life Guards, Metro Police Search & Rescue, en die Alimdaad Foundation Search & Rescue, se reddingsvaardighede in vloedwater is verlede week in swaar reën en met gepaardgaande verhoogde vloei van die Vaalrivier getoets tydens ‘n professionele vloedwater reddingskursus in Parys.
Hul vermoë om as span saam te werk en te kommunikeer is Vrydag tydens ‘n praktiese oefening ook by die laagwaterbrug na Gholfeiland geëvalueer.
Die weeklange kursus is aangebied deur Hugh du Preez van Whitewater Training.
Hugh is een van die land se mees ervare en hoogs gekwalifiseerde riviergidse en witwater opleidingsinstrukteurs. Sy jarelange ervaring in beide kajak en vlotvaart, asook kennis van riviere oor die wêreld, is al telkemale deur die polisie en nooddienste ingespan tydens reddingsaksies en risiko bepaling.
Laagwaterbrûe, sê Hugh, hou altyd ‘n gevaar in, veral naweke in ‘n dorp soos Parys wat teenaan die Vaalrivier lê met talle besoekers wat dan na die dorp kom.
Daarom is realistiese scenarios by die brug gebruik vir die oefening.




“Die oogmerk is altyd om mense veilig te hou,” sê Hugh wat sedert sy universiteitsdae ‘n passie vir riviere het.
Die groep het Donderdag ook hul hulp aangebied om ‘n pomp waar water uit die Vaalrivier vir Vredefort onttrek word, uit die rivier te kry om skade weens die rivier se verhoogde vloei na die reën te keer. Die pomp weeg 400kg.
Hoewel hulle nie die pomp kon uitkry nie, het die munisipaliteit einde ten laas ‘n ander pomp by die sump gekoppel. Die beskermde ruimte van die sump is oorspronklik geskep vir die twee pompe, maar was net met een pomp gekoppel wat toe mettertyd geskuif en in die rivier geplaas is.
Dit het telkens probleme veral in vloedsituasies veroorsaak.
Volgens DA-raadslid Saal de Jager word daar vir jare gevra dat die pomp teruggeskuif moet word, en dat beide pompe by die sump gekoppel moet word.
Die sump moet egter eers skoongesuig word.
Whitewater Training is in 1997 deur Hugh begin, en is hy ook een van die avontuurgidse wat jaarliks tydens die somer in die noordelike halfrond as avontuurgids in Heidel, Noorweë, werk en betrokke is by die opleiding van avontuurgidse in verskeie dissiplines.
Hy het vroeër Suid-Afrika by die Freestyle World Championships in Kanada en Spanje verteenwoordig.



