Vrystaatse speurder vasgetrek vir afpersing ná lokval
Die verdagte sal na verwagting Maandag 13 Julie in die Sasolburg-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en afpersing.
‘n 43-Jarige speursersant is Vrydag deur die polisie se Teenkorrupsie-eenheid in Sasolburg in hegtenis geneem op aanklagte van afpersing en korrupsie
Die klagte spruit uit ‘n voorval op Sondag 5 Julie toe die speurder die huis van ‘n 41-jarige klaer in Zamdela besoek het op soek na hom. Die man was nie tuis nie. Die speurder het daarna op Maandag 6 Julie teruggekeer na die huis en die klaer meegedeel dat ‘n saak van aanranding teen hom geopen is, maar toe na bewering voorgestel dat hulle ‘iets kan uitwerk’ om te verhoed dat hy in hegtenis geneem word, waarop die klaer R2 000 elektronies oorbetaal het.
Die afpersing het na bewering nie hier gestop nie en is nog R10 000 twee dae later van die klaer ge-eis om die klag terug te trek. Die klaer het nie die geld gehad nie, maar belowe om ‘n plan te maak.
Die saak is toe onder die Vrystaatse Teenkorrupsie-eenheid se aandag gebring, en ‘n lokval vir die speurder gestel. Die klaer sou die speurder agter die Sasolburg-polisiestasie ontmoet om die geld te oorhandig. Die speurder is na die oorhandiging van die gemerkte lokvalgeld in hegtenis geneem.
Die Provinsiale Kommissaris van die Vrystaat, luitenant-generaal Thabang Lesia, het die optrede van die speursersant ten sterkste veroordeel en gesê die operasie stuur ‘n duidelike boodskap aan alle lede dat korrupsie sonder vrees of guns uitgeroei sal word. “Ek loof die Teenkorrupsie-eenheid vir hul vinnige optrede. Ons is ten volle daartoe verbind om die publiek se vertroue in die Suid-Afrikaanse Polisiediens te herstel,” het Lesia gesê.
Die verdagte sal na verwagting Maandag 13 Julie in die Sasolburg-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en afpersing.



