Local newsNews

Reuse pampoen-geluk uit die Koepel laat die skaal kreun

Die swaarste pampoen wat Danie Swanepoel al in sy lande gepluk het, het 150kg geweeg.

Op die plaas Geluk naby Hakuna Matata aan die Vaalrivier in die hart van die Vredefort Koepel, skuif jy nie sommer ‘n pampoen nie. Dit vat ‘n paar sterk manne om die Goliatte in die pampoenland te laai.

Van die pampoenreuse is verlede week saam met ‘n vrag murgpampoene wat self die skaal elk op ‘n allemintige 1.5kg laat staan, vir die Hartshuis se inwoners in Vredefort geskenk deur plaaseienaar, Danie Swanepoel.

Danie Swanepoel se swaarste pampoen wat hy al gepluk het was ‘n knewel van 150kg wat ‘n hele paar hande nodig gehad het om te skuif.

Dit was nie die eerste keer dat Swanepoel uitgereik het na die Hartshuis-inwoners nie. In die verlede het ‘n waatlemoen-skenking ook vir die sentrum vreugde gebring.

Pampoenreuse is veral gewild vir hul saad verduidelik Swanepoel, wie se grootste pampoen die skaal al op 150kg laat staan het.
Dit is immers bekend dat boere en tuinliefhebbers regoor die land maande lank hul reusagtige pampoene versorg vir die jaarlikse Goliat van Gat Pampoenfees wat vanjaar op 15 Maart by die Pretoria Ou Motorklub in Silverton gehou word. Die vraag op almal se lippe – gaan die 2025-wenpampoen die vorige rekord van 890kg oortref?

Swanepoel vertel dat hy die Lambrecht-pampoensaad teen R50 vir twee sade in 2022 gekoop het. Die oes was gewigtig, en hy het van die pampoene oopgesny om die pitte te hou, want die saad is die duur deel, vertel hy.

Eintlik word daar hoofsaaklik knoffel verbou op Geluk, en wanneer die knoffelseisoen verby is, word daar ‘cover crop’ soos die pampoen en ander groente geplant.

Vanjaar het hy onder meer uie, wortels en komkommers geplant voordat dit weer tyd is vir die knoffel-plantery.
Hy gebruik geen kunsmatige kunsmis nie – slegs kraalmis.

In 2023 het hy geen pampoen geplant nie, en het die pampoensaad wat hy in September verlede jaar geplant het, swaar getrek weens die onverwagte koue. In Oktober het hy weer probeer – dié keer het die oes alle verwagtinge oortref. Soveel so dat Swanepoel die oorvloed waarmee hy geseën is met die Hartshuis wou deel, en is naby ‘n ton se pampoen afgelaai.

“Dié reuse pampoene vat baie spasie in die lande,” sê Swanepoel. Een plant rank 12-13m lank.

Kyk net hoe rank die pampoen in Danie Swanepoel se lande.

Ten spyte van sy uitsonderlike pampoen-oes het hy nog nie sy geluk by die pampoenfees gaan toets nie, maar vir pampoenboere wat drome het oor die Goliat van Gat-fees, is daar van Swanepoel se tamaai pampoene wat te koop is by die Pap en Braai Plaaswinkel in Vredefort se hoofstraat.

Die 4-jarige Ernest Baliso by twee van Danie Swanepoel se pampoene wat nou by die Pap & Braai Plaaswinkel te koop is. Die grootste (regs op die foto) weeg 64kg.
Swanepoel se tamaai pampoene wat deur die Pap & Braai Plaaswinkel aangekoop is.

Die winkel is in 2024 begin om die Hartshuis te ondersteun, en het na Swanepoel se skenking vir die Hartshuis, self ook murgpampoene en van die Lambrecht pampoene by Swanepoel gekoop om weer te verkoop. Net drie is oor wat wag vir kopers en weeg 64kg, 37kg en 36.9kg onderskeidelik.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button