Werkloosheid, spanning en gesinsverbrokkeling dra by tot onsekerheid in gemeenskappe
Hoewel daar 'n sterk behoefte aan ondersteuning in gemeenskappe is, beleef baie mense steeds tye van isolasie.
Ongeveer 70% van mense voel dat hul veiligheid en geborgenheid beïnvloed word deur ekonomiese onsekerheid en
werkloosheid, geestesgesondheid en stres, en fragmentasie van en isolasie in die gemeenskap. Dit is volgens ‘n meningspeiling wat deur Solidariteit Helpende Hand gedoen is.
Die peiling, wat in Februarie op sosiale media gedoen is, toon dat Suid-Afrikaners toenemend onseker voel oor hul plek in gemeenskappe omdat faktore soos werkloosheid, gesinsverbrokkeling en ‘n gebrek aan ondersteuning hulle gevoel van geborgenheid verswak.
Meer as ‘n derde van respondente ervaar ekonomiese onsekerheid en werkloosheid as ‘n direkte bedreiging vir hul geborgenheid.
Geestesgesondheid en stres, en fragmentasie van en isolasie in die gemeenskap raak ook ongeveer ‘n derde van die respondente en veroorsaak verdere spanning en onstabiliteit.
Hoewel daar ‘n sterk behoefte aan ondersteuning in gemeenskappe is, beleef baie mense steeds tye
van isolasie. Dit dui op ‘n kritieke tekort aan stabiliteit en ondersteuning in gemeenskappe. Hierdie tendense wys dat geborgenheid nie net ‘n persoonlike behoefte is nie, maar ‘n sosiale noodsaaklikheid wat stabiliteit en veerkragtigheid bevorder.
Lize van Zyl, ‘n maatskaplike werker en maatskaplike bestuurder van Solidariteit Helpende Hand,
beklemtoon die belangrikheid van maatskaplike werkers vir die vestiging van geborgenheid in
gemeenskappe.
Maart is Maatskaplikewerkersmaand. “Ons wil spesifiek mense se aandag vestig op die kritieke rol wat hierdie professionele persone speel om geborgenheid te versterk deur emosionele ondersteuning te bied en sosiale aanvaarding te bevorder. Verder wil ons gemeenskappe bewus maak van en inspireer tot ‘n aktiewe betrokkenheid by waardegedrewe inisiatiewe wat
geborgenheid en samehorigheid ondersteun. So wil ons ‘n beweging van hoop, ondersteuning en
verbondenheid aanwakker – ‘n beweging wat sal help om individue en gemeenskappe sterker,
veerkragtiger en meer verbonde te maak,” sê Van Zyl.
Ter erkenning van maatskaplike werkers se bydrae in die samelewing sal Hoopdraer-toekennings in
samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerk binnekort aan ligdraers in die beroep en
gemeenskap oorhandig word. Met hierdie inisiatief wil Solidariteit Helpende Hand ‘n daadwerklike
verskil maak en ‘n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid dryf – ‘n tree na ‘n sterker,
meer geborge samelewing.



