Van honde tot ‘n bobbejaan en ‘n springbok veg dapper saam met soldate
Vermaak het aan homself ’n belofte gemaak om ’n gedenkmuur tot stand te bring ná die verlies van sy polisiehond Shep in 1987 en honde-ambassadeur Marcus in 2023.

Militêre en polisieveterane asook diereliefhebbers het Sondag na die Voortrekkermonument gestroom vir die onthulling van die “Diere in Oorlog”-gedenkmuur. Die geleentheid is voorafgegaan met die plasing van ’n splinternuwe banier vir die Diere in Oorlog- veteraneorganisasie. By hierdie geleentheid is die Savannah-banier ook die laaste keer by ’n nie-Savannah-parade vertoon.
Operasie Savannah het in laat 1975 in Angola begin en het in Maart 1976 tot einde gekom. Tydens die bogenoemde veldtog het geweerman Adam Schonveldt en sy spoorsnyerhond, Rinty gesneuwel.
Veteraan Roché Vermaak, wat die dryfkrag agter die totstandkoming van die gedenkmuur was, het tydens die inhuldigingsgeleentheid gesê dat diere wat gebruik is in oorlog die onbesonge helde van die slagveld is. Vermaak het genoem dat perde, honde, katte, duiwe, ’n bobbejaan en ’n springbok dapper saam met menslike soldate in verskeie oorloë en veldslae wêreldwyd diens gedoen het.

Vermaak het aan homself ’n belofte gemaak om ’n gedenkmuur tot stand te bring ná die verlies van sy polisiehond Shep in 1987 en honde-ambassadeur Marcus in 2023.
Suid-Afrika se meer ongewone gelukbringers het onder meer ’n springbok genaamd Nancy ingesluit. Nancy is die enigste dier in die militêre geskiedenis wat met volle militêre eerbewys in ’n geallieerde begraafplaas begrawe is. Nancy was die gelukbringer van die 4de Suid-Afrikaanse Infanterieregiment en is tydens die strawwe winter van 1918 aan longontsteking in België dood.

’n Ander gelukbringer van die 3de Transvaalse Regiment was ’n bobbejaan genaamd Jackie. Jackie was oral saam met die soldate wat tydens die Eerste Wêreldoorlog in die loopgrawe van Frankryk gedien het. Jackie is van ’n uniform kompleet met knope en regimentskentekens, ’n pet, ’n betaalboek en sy eie stel rantsoene voorsien.

Afgetrede generaal-majoor Lawrence Smith het tydens die onthullingsgeleentheid opgemerk dat daar ’n medalje vir dapperheid vir diere bestaan. Dit word die Dicken-medalje genoem en is al meer as 70 keer aan ’n verskeidenheid van diere toegeken. Ongeveer 50 kranse is gelê deur verskeie veterane organisasies asook die Stad Tshwane, die Franse militêre attaché, die Tshwane DBV en die Erfenisstigting, wat instrumenteel was in die oprigting van die gedenkteken.



