Syla meld aan vir diens
Syla is die enigste soek- en reddingshond by die Sasolburgse K9-eenheid, en een van net drie in die Vrystaat.
Die polisie se Sasolburg K9 honde-eenheid het ‘n nuwe lid. Bravo 8548, of te wel Syla, die Belgiese herdershond, het Maandag, vir diens aangemeld nadat sy haar drie maande opleiding as soek- en reddingshond suksesvol voltooi het.
Haar hanteerder, adjudant-offisier Hollie Holtzhausen wat in Parys bly, vertel dat die tweejarige Syla aanvanklik getoets is as patrolliehond. Sy kon egter nie die patrolliehond vereistes vir skootvastheid slaag nie, maar het haar opleiding as soek- en reddingshond met vlieënde vaandels geslaag.
Syla is die enigste soek- en reddingshond by die Sasolburgse K9-eenheid, en een van net drie in die Vrystaat wat oor die hele provinsie werk om te help met soek- en reddingsoperasies op land en in water.

Die jong Syla het egter groot spore om in te loop. Haar voorganger, Bennie, ook ‘n Belgiese herdershond, is nou 11 jaar oud en geniet sy aftrede nadat spondylosis (osteoartritis van die ruggraat) vroeg verlede jaar deur die veearts by die K9 Academy Roodeplaat, by hom gediagnoseer is.
Sedert Bennie die laaste keer sy ‘uniform’ of te wel werkbaadjie verlede jaar aangetrek het, is hy in Parys waar hy steeds by Holtzhausen bly, na ‘n lang en uitsonderlike diensloopbaan.
Vir sewe jaar het Bennie en Holtzhausen sy aan sy gewerk in vloedsituasies, in die veld, by vlak grafte, en op soek- en reddingstonele. Vierhonderd verdrinkingsake, 288 moordsake, 380 sake van vermiste persone, 76 botsingstonele waar gesoek is na liggame wat met die geweld van ‘n botsing uit ‘n voertuig geslinger is, of die liggaamsdele van voetgangers wat raakgery is.
Bennie was Holtzhausen se derde soek-en reddingshond, en is daar steeds soos met Syla, ‘n onafskeidbare band tussen hulle.
Dit was Bennie wat in 2021 help soek het na die die 35-jarige Yolandi Botes van wie dele van haar ontbinde liggaam in die omgewing van die Vaal-vakansieoord by Villiers gekry is. Sy is die laaste keer gesien toe sy ‘n Uber-diens gebruik het vanaf die OR Tambo-lughawe.
In 2022 werk Bennie en Holtzhausen vir dae in dik mynslik om te soek na tekens van lewe nadat ‘n damwal by die Jagersfontein-myn gebreek het.
Daar was die tragiese geval in 2017 toe die oorskot van die driejarige Liam Nortjé langs ‘n treinspoor by Harrismith gevind is. Sy pa is later aan sy moord skuldig bevind.
Drie maal het Bennie en Holtzhausen in Lesotho gehelp tydens natuurrampe, of met moordsake waar die hulp van die polisie se soek- en reddingseenheid ingeroep is.
“Jy werk saam met een doel voor oë – om ‘n lewe te red, of om uiteindelik vir families afsluiting te gee wanneer ‘n liggaam gevind word.
Opleiding van polisiehonde:
Honde kan met groot sukses in die polisie gebruik word, vertel Holtzhausen, juis dié wat sogenaamde ‘people pleasers’ is. Dit is hulle wat ‘n hoë dryf het en graag hul eienaar tevrede wil stel. Daarom word hulle dikwels met balspel die nodige vaardighede geleer om ‘n taak te kan uitvoer waarvoor hulle dan beloon word. Mettertyd assosieer die honde die taak wat hulle moet uitvoer met die beloning wat daarop volg.
Nie alle honde slaag hul opleiding nie, maar tot 60% sukses word behaal, en kan dié wat nie vir ‘n spesifieke taak opgelei kan word nie ,soos in Syla se geval, in ‘n ander dissipline meer suksesvol wees. Reg van die begin af word daar gekyk na elke hond se welstand, en veral ook hul heupe om seker te maak dat hulle gesond en geskik sal wees om as werkshonde gebruik te word. Min mense weet dat jy ‘n hond op ongeveer tweejarige ouderdom aan die polisie kan skenk vir opleiding, en sou jy dit oorweeg, kan jy (016) 971 9100 skakel.
Die K9 Academy Roodeplaat is die enigste opleidingsentrum vir polisiehonde in die land en is ‘n top fasiliteit met net die beste veeartssorg vir die diere.
Die polisie gebruik meestal Duitse herdershonde, Belgiese herdershonde, labradors, golden retrievers en selfs spaniëls om op te lei. Daar word met opleiding van die honde op die ouderdom van 18 maande begin en kan sommige tot 12 of selfs 14 jaar oud werk, afhangend van hul gesondheid.



