Meester skilder se kunswerk van ‘n meester
"Ek maak nie museumkuns nie," sê Nic. "Ek maak galerykuns wat gewone mense kan koop."
Jy herken dadelik die besondere werk van die meester Rembrandt. ‘n Presiese replika van die Nagwaak, maar die verskil is dat dié uitsonderlike kunswerk van 2.2m x 1.6m geskilder is deur die 86-jarige Nic Oosthuizen van Parys. ‘n Man wat self daarvoor bekend is dat hy met sy kwaste portrette van veral kinders, diere en selfs geboue lewe gee op die skilderdoek.
By sy huis in Schilbachstraat gesels Nic oor dié uitsonderlike werk wat presies ‘n week gelede voltooi is. Dis die eiendom van Wim Anandale vir wie hy die werk geskilder het vir een van sy huise in Frankryk.
Dit is nie sy eerste skildery van dié grootte nie, vertel Nic, wat die voorreg om nog op sy jare te kan skilder, as genade beskryf.
Hy gesels oor Rembrandt en vertel dat dié meester in armoede op 63-jarige ouderdom oorlede is. Die Nagwaak is oorspronklik in 1642 geskilder – tien jaar voor Van Riebeeck in die Kaap aangekom het.



Die Nagwaak
Die skildery beeld die soldate onder kaptein Balling Cocq (geklee in swart) uit die oomblik toe hy luitenant Willem Ruitenburg (geklee in geel) opdrag gegee het om uit te marsjeer. Op die skildery is die manne nog besig om hul wapens gereed te kry. Nic vertel Nederland het vir 80 jaar teen Spanje oorlog gemaak. Die vrede is eers in 1648 in Munster gesluit, maar in die laaste jare is daar nie juis geveg nie.
Ten spyte van die oorlog het Nederland sy goue eeu beleef en die rykste land in die wêreld geword met die VOC wat die verversingspos aan die Kaap gestig het. Ander groot kunstenaars uit die tydperk was Johannes Vermeer en Frans Hals. Vermeer is onder meer bekend vir sy werk, Die meisie met die pêrel oorring, en Hals vir sy Laggende Kavalier.
Wat interessant is van die Nagwaak is dat ses kunstenaars gevra was om te skilder om die plek waar die soldate byeen gekom het, te versier. Rembrandt se werk was die grootste, en Nic se replika van die Nagwaak is die helfte so groot as die oorspronklike werk.
Toe die oorspronklike Rembrandt-skildery later na die stadsaal geskuif is was dit té groot om te pas in die spasie waar dit moes hang, en is die kante van die skildery afgesny. Vandag is dit ‘n onbekostigbare werk wat in Nederland se Rijksmuseum hang. Vir Nic is Rembrandt se Nagwaak die grootste kunswerk van alle tye.
“Rembrandt se selfportrette was van sy beste werke, en die betekenisvolheid daarvan is merkwaardig,” sê Nic. Hyself het net meer as twee weke lank aan die Nagwaak-replika geskilder, en glimlag as hy PG du Plessis aanhaal toe hy gevra is wat sy grootste motivering is, en dié geantwoord het – druk.
Nic het vantevore ook die bekende Nagwaak geskilder. Nog ‘n kleiner replika daarvan hang onder meer in ‘n die huis van ‘n Hollandse vriend in Standerton.
Nic het ook ander skilderye vir Wim geskilder.
‘n Meester in ons midde
Jy sien Nic Oosthuizen gereeld aan die skilder by die ateljee van skilder Riaan van den Berg in Breëstraat, waar ook van sy ander werke hang.
Naas ‘n onderwysdiploma het hy ook ‘n graad in Beeldende Kunste, en vertel hy die staaltjie van hoe hy tydens sy studies aan Unisa ‘n lewende tekening moes maak as prakties vir een van sy vakke. Die dominee wat toesig moes hou was taamlik verleë oor die naakte model wat gekry moes word vir die werk, en het toe maar aangebied om eerder Nic se petrolgeld Pretoria toe te betaal sodat hy daar die prakties kon doen.
Nic en sy vrou Meyera het van Vanderbijlpark na Parys verhuis, maar eintlik is hy ‘n Hoëvelder, vertel hy. Hy’t kuns gegee vir matrieks in Nelspruit, en daarna ook by skole in Heidelberg en Linden. Selfs ‘n draai op Ermelo gemaak waar hy geskiedenisonderwyser was.
Maar atletiekafrigting was sy eintlike liefde. Hy’t oor die 50 jaar lank hekkies afgerig, en meer atletiekkursusse bygewoon as wat hy kon tel. Onder sy hande is twee Springbokatlete, Dawie Kuhn en Anina van Deventer, later van Heerden, gebrei. So tussendeur die skoolhou en ure op die atletiekveld was daar ‘n tyd wat Nic op sy pa se plaas by Standerton geboer het.
Eers in 1996 kon hy voltyds professioneel begin skilder vertel hy, en werk hy met olieverf. Hy is ook bekend vir sy besondere skilderye van skape, en het werke geskilder van Parys se pragtige ou geboue. So ook ‘n skildery van die Franse Notre Dame vir die NG gemeente Vaalrivier. Dié skildery is voltooi twee maande voor die brand by die katedraal. Nic se uitsonderlike werk is oor die jare in galerye in Johannesburg, Shelly Beach en Heidelberg uitgestal, en nou ook by die Vandenberg Fine Art Gallery by The Trading Post in Breëstraat. Sy dogter, Susan, is self ‘n bekende skilder.


“Ek maak nie museumkuns nie,” sê Nic. “Ek maak galerykuns wat gewone mense kan koop.”
Hy en Meyera is 56 jaar getroud en in al die jare het hulle nog nooit gestry nie – net verskil.
Daardie ingesteldheid op mekaar hoor jy wanneer hy vertel dat Meyera se kennersoog telkens nader geroep word wanneer hy skilder. “Sy kyk na die werk soos wat ander na my werk sal kyk en soms luister ek vir haar, soms sy vir my,” sê hy.




