Munisipaliteit kry weer verkeersafdeling
Die verkeersafdeling sal sodra dit weer in werking is 'n kantoor by die brandweerstasie in Parys hê.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit kry na nege jaar weer ‘n munisipale verkeersafdeling. Volgens die munisipale bestuurder, dr. Mothamaha, is die verwagting dat die verkeersafdeling teen einde Junie weer op die been sal wees.
Die munisipaliteit se verkeersafdeling het in 2016 ontbind met meeste van die munisipale verkeersbeamptes wat oorgeplaas is na die provinsiale verkeersafdeling.
Die verkeersafdeling sal sodra dit weer in werking is ‘n kantoor by die brandweerstasie in Parys hê.
Nie net sal die afdeling help om ‘n inkomste vir die munisipaliteit te genereer deur toe te sien dat padverkeerswette en munisipale regulasies binne die munisipale gebied nagekom word nie, maar sal munisipale verkeersbeamptes ook hulp verleen met begeleidings deur die dorp, abnormale vrag wat deur die dorp moet beweeg, ander begeleidings, die toemaak van strate, om beheer uit te oefen oor die plasing van advertensieborde, en te kyk dat padtekens sigbaar en op hul plek is.
Die gebrek aan veral padtekens en padmerke, is al ‘n geruime tyd ‘n groot probleem in die dorp, en hoewel dit tyd sal neem om padtekens weer op hul plek en sigbaar te kry, is die herinstelling van die munisipale verkeersdepartement reeds ‘n stap in die regte rigting.



