Gesteelde bakkie gou gekry na jaagtog deur landerye
Die polisie is geloof vir die flinke en professionele optrede wat gehelp het om die voertuig so gou te kon terugvind.
Knap spanwerk en flinke optrede van polisielede het Saterdag daartoe gelei dat ‘n bakkie wat in Parys gesteel is, na sowat ‘n uur en ‘n half, in die landerye op ‘n plaas langs die R59 teruggevind is.
Die Toyota Hilux GD6-bakkie is Saterdagmiddag in Luytstraat by die MOTH-klub gesteel.
Die voertuigeienaar was by die MOTHs Barrage Shellhole se 70ste bestaansjaarviering toe hy omstreeks 12:30 uitgestap het om ‘n hoofpynpil in sy bakkie te gaan haal.
Tot sy skok was die bakkie skoonveld. Die diefstal is by Parys SAPD gerapporteer en lede van die distrik se Operasionale Bevelsentrum het die inligting met die ondersteuning van die Belrex-moniteringskameras onmiddelik opgevolg. Die gesteelde voertuig is op die R59 opgemerk waar dit in die rigting van Sasolburg beweeg het, en het polisielede die voertuig agterna gesit.
In die jaagtog wat gevolg het, het die voertuigdiewe met die gesteelde voertuig deur die lyndraad van die plaas langs die R59 gejaag, en daarna deur nog twee lyndrade van grenskampe. Hulle het hulle egter vasgery in ‘n hoek by die landerye, en toe uitgespring en te voet verder gevlug. Met die afgelope weke se swaar reën is lande baie nat, en het die polisievoertuig in die landerye vasgeval. Die gesteelde bakkie is egter teruggekry, en het werknemers van die boer gehelp om die polisievoertuig met ‘n trekker uit die nat lande te kry.
Die voertuigeienaar het Maandag aan Gazette gesê hoewel daar met die diefstal baie skade aan die bakkie gemaak is, het hy net die hoogste lof vir polisielede se professionele optrede, insluitend die Trio-taakspan, hoofwegpatrollie, ao Celeste Keyser en S. Venter, sekuriteitsbeampte van Parys Sekuriteit.




