Dwelmverslawing: Kinders moenie hierdeur geraak word nie
Die bewusmakingsveldtog vir die groter Parys-gemeenskap sal van 29 Mei tot 1 Junie gehou word, sê Petunia.
“Dit maak ‘n mens bang om kinders groot te maak in ‘n gemeenskap waar dwelmmisbruik so ‘n groot probleem geword het. Daar is geen vooruitsigte, of rolmodelle vir ons kinders nie. Dwelmmisbruik veroorsaak dat kinders skool los, en duur die siklus van armoede net voort.”
Dit is wat ‘n kleutersskooljuffrou van Schonkenville, Christell (Petunia) Spunges laat besluit het om die Save One Soul Foundation te nader om ‘n vier dae lange bewusmakingsveldtog oor die gevare van dwelmverslawing in haar gemeenskap te kom doen.
As jong dogtertjie het sy self ervaar wat dwelmverslawing aan ‘n gesin doen. Haar pa was aan Mandrax verslaaf, en het hy as gevolg daarvan sy werk verloor. Al het hulle ‘n goeie verhouding gehad, het sy verslawing alles om hom beïnvloed vertel die ma van drie.
Daarom wil sy nie sien dat haar kinders of ander mense se kinders deur dwelmverslawing geraak word soos wat sy as kind geraak is nie, sê sy.
Petunia is lid van die nie-winsgewende organisasie, True Hope Foundation, want sy wil ‘n verskil in mense se lewens maak, sê sy.

Verlede jaar het sy op klein skaal op haar eie ‘n dwelmbewusmakingsveldtog gereël. Sy het uit haar foute met die veldtog geleer, en besluit om dit vanjaar anders aan te pak, en mense te betrek wat daagliks met middelafhanklikheid werk.
So het haar pad met dié van Save One Soul Foundation gekruis wat as nie-winsgewende organisasie in Florida werk en vier huise van veiligheid het. Die organisasie is betrokke by die rahbilitering van mense reg oor Suid-Afrika, vertel Petunia. “Hulle doen ‘n fantastiese werk. Met die Woord van die Here laat hulle mense nuwe blaadjies omslaan en help hulle mense besef hoe kosbaar hulle is,” vertel sy.
Die bewusmakingsveldtog vir die groter Parys-gemeenskap sal van 29 Mei tot 1 Junie gehou word, sê Petunia.
Om die Save One Soul Foundation se vervoer en verblyfkoste te betaal vir die tydperk wat hulle in Parys sal wees, is skenkings nodig en het Petunia reeds met die hulp van borge R6 000 van die R10 500 ingesamel. Borge wat kan help om ‘n verskil in die gemeenskap te maak met die veldtog, kan Petunia skakel by 079 216 0506.



