Local newsNews

Onwettige jag met honde: Wanneer gaan die wet geld?

Onwettige jag met honde is nie net ’n oortreding nie, dit is ’n misdaad sê TLU SA

TLU SA sê hy is bekommerd oor die onwettige jag met honde wat in landbougebiede, veral in die Vrystaat, handuit ruk ten spyt van bestaande wetgewing en riglyne wat oortreders aanspreeklik kan hou.

Die organisasie sê meer voorvalle word aangemeld waar individue sonder toestemming op privaat eiendom met honde instap en wild of vee jag. Hierdie optrede lei tot verliese, strukturele skade, en skep ‘n klimaat van wetteloosheid op plase.

“Ons sien ‘n gevaarlike patroon van onregmatige betreding wat tot ernstige en selfs georganiseerde misdaad kan lei. Dit kan nie langer geïgnoreer word nie,” waarsku Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA.

Die organisasie sê verder die polisie beskik reeds oor riglyne wat spesifiek voorsiening maak vir hoe sulke sake hanteer moet word. Hierdie sluit onder andere in: die beslaglegging van betrokke honde as bewysstukke, prosedures vir inhegtenisneming, en die toepaslike wetgewing soos die Omheiningswet, die Wet op Dierebeskerming, en die Wet op Onregmatige Betreding. Tog blyk dit dat oortreders ten spyte hiervan gereeld wegkom, sê TLU SA.

“Ons boere is geregtig op beskerming van hul eiendom en veiligheid van hul gesinne,” sê Van Zyl.

Volgens TLU SA se Veiligheidskomitee dien hierdie tipe onwettige jag dikwels as dekmantel vir ander misdade soos veediefstal, intimidasie en selfs geweldsmisdade. Boere wat hierdie praktyk teenstaan, word nie net bedreig nie, maar is ook slagoffers van doelbewuste veldbrande.

“Ons ontvang toenemend berigte dat hierdie onwettige jagtogte in die wintertyd ook ‘n groot bydraende faktor is tot brandstigting,” sê Van Zyl. As hierdie onwettige jagte daadwerklik bekamp word, sal dit dus ook ’n wesenlike impak hê op die vermindering van winterveldbrande.”

Sonder daadwerklike wetstoepassing word die geloofwaardigheid van die regstaat ondermyn, sê TLU SA.

“Ons moedig boere aan om elke voorval deeglik te dokumenteer, foto’s te neem, verklarings van getuies te verkry, en klagtes via die regte kanale in te dien. TLU SA sal aanhou druk plaas op die owerhede totdat wet en orde in landbougebiede herstel word.”

“Onwettige jag met honde is nie net ’n oortreding nie, dit is ’n misdaad, en dit móét so hanteer word,” sluit Van Zyl af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button