Local newsNews

Kry jou popcorn vir Retta se storie want op dié een kan jy nie uitmis nie!

Die Dekonstruksie van Retta Blom wys binnekort in 'n fliekteater naby jou.

Die tas so eenkant in die kattebak asof hy plek hou vir iemand….

Retta sit by haar eetkamertafel en blaai deur ‘n boek. Sy sien iets in die boek wat ‘die pennie laat drop’. Iets wat die antwoord op ‘n raaisel gee, want ‘n leuen is soos ‘n kombersie wat bly uitrafel.

Die spel in dié toneel gaan jou asem wegslaan, en boonop is daar min wat kom by popcorn en ‘n goeie movie, verklap Parysenaar Zelda Bezuidenhout oor die fliek, Die dekonstruksie van Retta Blom, gebaseer op haar gelyknamige treffer volwasse roman wat op 23 Mei by uitgesoekte Ster Kinekor- en Nu Metro-teaters begin draai.

Die fliek is deur The Ergo Company gemaak met Cati Weinek en Dumi Gumbi as vervaardigers, met die talentvolle akteur en skrywer, Henriëtta Gryffenberg, wat verantwoordelik was vir die draaiboek.

Oor die treffende woorde op die lokplakkaat vir die fliek, “‘n Leuen is soos ‘n kombersie wat bly uitrafel,” vertel Zelda dat hul huiswerker en goeie vriendin, Marie Pakati, altyd gesê het: “Lieg is soos ‘n klein kombersie. As jy dit optrek om jou kop toe te maak, kry jou voete koud.” En dit is waar die intrige in Retta se verhaal kom.

Zelda se boek, Die dekonstruksie van Retta Blom is oorspronklik in 2019 gepubliseer. Dit was die eerste keer dat sy haar hand aan ‘n roman vir volwassenes gewaag het.  In daardie stadium het sy nog net een boek – ‘n jeugroman, op die rakke gehad.

Die idee vir die storielyn is gebore uit Zelda se onthou van ‘n perfeksionistiese ‘Retta’-tipe vrou saam met wie sy dekades gelede gewerk het. “Dit het gelyk asof hierdie kollega die volmaakte lewe gehad het: ‘n liefdevolle man, ‘n dogter, pragtige huis…Een oggend kom sy met rooigehuilde oë by die werk en sê haar man het sy tas ‘snaaks’ in die kattebak gelaai die oggend toe hy weg is vir ‘n sakebesoek. Hy het dit nie net ingelaai nie, maar eenkant toe gestoot asof hy plek hou vir ‘n ander tas.

Ek sou nie eens so iets opgelet het nie, maar dit het hierdie vrou se ondersoekende oog nie ontgaan nie.”
“Dit het my gefassineer – hoe klein dingetjies groot stories vertel. Hoe negatiewe ruimte soms meer sê as die voorwerp. Ek het geweet ek wil eendag iets daaroor skryf.”

Die boek het uitstekende resensies gekry en goed verkoop, maar wat Zelda die meeste verras het was die boodskappe en e-posse wat sy van vroue gekry het dat hulle met Retta se verhaal resoneer. “Dit was asof ek met die boek ‘n senuwee raakgeboor het.”

 

‘n Vriendin van die regisseur, Pieter Grobbelaar, het vir hom die boek geleen om te lees. Pieter het dadelik die potensiaal gesien vir ‘n goeie ‘date night’ fliek vir ‘n meer volwasse gehoor, en het NB-uitgewers genader om oor filmregte te onderhandel.

Pieter Grobbelaar saam met Antoinette Louw by Sondag se premiére in die Kaap.

‘n Groot verjaardaggeskenk en droom wat vir Zelda bewaarheid is toe sy drie jaar gelede op haar 60ste verjaardag  die nuus gekry het dat haar boek in ‘n fliek omskep word. Vir haar was die hele proses ‘n leerkurwe wat ook ‘n kykie gegee het op hoe hard akteurs en filmspanne werk en wat dit verg om plaaslike produksies te skep.

Sy glo dat die film sal lei tot interessante gesprekke oor die liefde en die lewe self en elkeen se soeke na die ware jy.

Op ‘n vraag oor of die karakters in die film naby is aan hoe sy die boekkarakters sou visualiseer, sê Zelda dat Antoinette Louw, wat die hoofrol van Retta Blom vertolk, baie naby aan presies is soos wat sy Retta voorgestel het. “Die meeste ander karakters lyk nie soos hulle in my kop gelyk het nie, maar dit is interessant om te sien hoe mense jou storie en karakters interpreteer.  As skrywer moet ‘n mens vooraf besluit om ‘te laat gaan’. Daar gebeur dikwels dinge wanneer jy ander mense se kreatiwiteit ook speeltyd gee,” gesels sy.

Antoinette Louw wat die hoofrol vertolk in ‘n roerende toneel uit die fliek, ‘Die Dekonstruksie van Retta Blom

Zelda het oor die afgelope jare haarself as veelsydige skrywer op vele terreine bewys, maar geniet tans die skryf van kortverhale die meeste, “miskien omdat ek oud word en sukkel om té lank op een ding te konsentreer!” vertel sy laggend, en voeg by, “my skryfvoorkeur verander deurentyd.”

Zelda beskryf haarself as ‘n introvert wat ‘n paar vaardighede aangeleer het om in die wêreld te funksioneer. “Dit is nie die glanspersoonlikhede wat my inspireer nie, maar gewone mense wat dapper moet wees en hard moet werk om net deur hul dae te kom.”As sy moet kies tussen ‘n boek of ‘n fliek, is altwee bo-aan aan haar doenlysie. Uit die skatkis van Afrikaanse films is Die Wonderwerker ‘n gunsteling, “maar sjoe, ek het honderde lieflingflieks,” sê sy. “The English patient is loshande my gunsteling Engelse fliek – ‘n fantastiese verwerking van Michael Ondaatje se roman.

Regisseur Pieter Grobbelaar met sy hond, Sam. Sam speel die rol van Charlie in die fliek maar Charlie se naam is na ‘Sam’ verander- die naam wat hy ken en op reageer.

Of sy graag weer in die toekoms ‘n boek van haar op die silwerskerm sou wou sien, is Zelda eerlik dat dit ‘n traumatiese ervaring vir enige skrywer kan wees, maar ook ‘n wonderlike leerervaring waaroor sy nie een oomblik spyt is dat dit met haar gebeur het nie. Ons het al wonderlike Afrikaanse films oor die jare gesien, en steeds kyk mense graag na Afrikaanse films.

Skrywer Zelda Bezuidenhout.

“Ek dink dit is daardie eg menslike element in Afrikaanse flieks wat ons laat terugkom vir meer. Dieselfde goed wat ons in trane gehad het oor oorlede Jans Rautenbach se films, wat ons deesdae laat skaterlag vir Marc Lottering of Bouwer Bosch en Bennie Fourie se sketse.

Afrikaanssprekende mense is oor die algemeen sout van die aarde, hartlik en vrek snaaks. Ons kan natuurlik ook lekker wroeg. Ons is lief vir lewensdrama in al sy vorme,” gesels sy.

n Paar interessanthede oor die karakters en musiek in die rolprent

* Antoinette Louw wat die hoofrol vertolk in Die dekonstruksie van Retta Blom is genomineer vir beste aktrise in n hoofrol by die Silwerskermfees.

*Franco Prinsloo wat verantwoordelik was vir die musiekklankbaan (en ook bekend is vir die musiek van die treffer TV-reeks Nêrens Noord-Kaap)  is by die Silwerskermfees genomineer vir Beste musiekklankbaan

*Carmen Maarman wat die rol van Suria speel was genomineer as beste vroulike byspeler by die Silwerskermfees.

* Hou in gedagte dat Die Dekonstruksie van Retta Blom ‘n PG16 ouderdomsgepaste beperking het, want karakters word lewensgetrou uitgebeeld en het soms n bietjie onkruid in die taaltuin. Interessant ook is dat intieme tonele soos jy dit deesdae in films sien, verfilm word met ‘n intimiteitskoördineerder wat vooraf met die karakters reperteer sodat die karakters presies weet hoe die toneel verfilm sal word. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button