Vyfster hotel, maar paaie vol gate
Verskeie kwessies is geopper, toe weer gepoog is om gemeenskapinsette te kry vir die voorgestelde IDP-projekte, na 'n mislukte vergadering verlede week.
Nie eens die vooruitsig vir die beloofde ontwikkeling van ‘n private en staatshospitaal langs die R59 buite Parys, of ‘n vyfster hotel vir die dorp, kon inwoners van wyke 7,10, 12 en 14 beïndruk tydens Maandag se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (IDP) vergadering by die Suid-gemeente. Soos met die vorige week se vergadering was frustrasie met gebrekkige munisipale dienslewering duidelik.
Wat inwoners wil hê is skoon drinkwater, paaie sonder gate, stabiele kragvoorsiening, ‘n elektroniese klagtebank, funksionele brandweerdiens, tydlyne vir die voltooiing van kapitale projekte en wat daaraan bestee word, werkende straatligte, en die regstel van grondhope en gebreekte sypaadjie randstene wat agtergelaat word waar munisipale herstelwerk gedoen is. Indringende vrae is ook gevra oor die munisipale bystand waterpompe wat vir maande al by ‘n kontrakteur staan en teen Maandag steeds nie betaal was nie, die gebrek aan ‘n voldoende noodkragopwekker by die dorp se watersuiweringsaanleg, en vordering met die direkte pyplyn van die watersuiweringswerke na opgaardam nr. 1.
Dié, en ander kwessies is geopper, toe weer gepoog is om gemeenskapinsette te kry vir die voorgestelde IDP-projekte, na ‘n mislukte vergadering verlede week. Die voorstelle en insette moet nou na die openbare deelname proses na die raad verwys word vir goedkeuring. IDP-projekte word vir ‘n periode van vyf jaar goedgekeur, maar word daar jaarliks met inwoners vergader om openbare insette te kry en terugvoer te gee.
Van die behoeftes van die gemeenskap wat by Maandag se vergadering uitgelig is, was die skoonmaak van onbewoonde erwe, die gebrek aan stoptekens en robotte wat nie werk nie, die aanspreek van rioolstortingkwessies, die herinstel van die leiwaterstelsel, gebrekkige toerusting vir die munisipaliteit se tegeniese afdeling, oop elektriese skakelkaste en laaghangende en onveilige elektriese drade, en dringende aandag wat nodig is by die dorp se stortingsterrein en pad na die stortingsterrein.
In haar terugvoer oor van die kwessies, het Ngwathe se tegniese direkteur, Patricia Morokolo, gesê dat Ngwathe samesprekings met Eskom voer oor die verhoging van die gekontrakteerde maksimum aanvraag vir elektrisiteit (NMD), en dat daaglikse betalings aan Eskom nou gemaak word. Die munisipaliteit se skuldlas aan Eskom beloop R2.5miljard.
Sy het genoem dat die munisipaliteit besig is met die verkryging van materiaal om nie-werkende straatligte te herstel, en beloof dat aandag gegee sal word aan plekke waar herstelwerk onvoltooid deur munisipale werkers agtergelaat is. Sy sê die munisipaliteit is ook besig met prosesse om werknemers wat nie hul kant bring nie, aan te spreek. Morokolo het haar waardering uitgespreek vir die hulp wat die gemeenskap aaanbied ten opsigte van kundigheid en beklemtoon dat haar en die munisipale bestuurder, dr. Fethuli Mothamaha se deure oop is vir die publiek.
Sy het genoem dat herstelwerk aan die dorp se watersuiweringsaanleg 60% voltoooi is, maar dat daar nog opgraderingswerk is wat gedoen moet word. Morokolo het dit duidelik gestel dat tydsraamwerke, die aantal mense in diens, en die begrotings vir elke kapitale projek, sowel as uitdagings wat ondervind word met projekte, aan wyksraadslede deurgegee sal word wat dit met wyksinwoners moet kommunikeer.
Daar is belowe dat aandag gegee sal word aan die waterlek by die pompstasie en dat die munispaliteit in die proses is om rioolstortingskwessies aan te spreek waarvoor hulp van departement waterwese gevra is.
Stortingsterreine sal ook aandag kry, en rampbefondsing is gevra vir die herstel van paaie, is gesê.





