Local newsNews

Lugvaartingenieur se drome kry Griekse vlerke

Vir die 30-jarige Waldu het dit harde werk geverg om tot hier te kom. Lug-vaartingenieurswese is 'n skaars vaardigheid in Suid-Afrika - 'n beroep wat uiterste noukeurigheid en akkuraatheid vereis.

Van kleintyd het Waldu Oosthuizen, ‘n oudleerder van Parys, gedroom om ‘n lugvaartingenieur te wees. Nou het dié jong man se drome vlerke gekry met ‘n nuwe uitdaging wat hy eersdaags aanpak wanneer hy in September na die Griekse eiland Kreta vertrek.

Waldu, en nog vyf ander Suid-Afrikaners wat vir die maatskappy Epsilon Engineering Services werk, sal nou saam met die Griekse maatskappy Aerovision werk om Epsilon se mark in die buiteland uit te brei.

Waar Waldu tot dusver hoofsaaklik ontwerp- en ontwikkelingswerk vir Jonker Sailplanes gedoen het, gaan hy in Griekeland betrokke wees by die bou en ontwerp van afstandbeheerde vliegtuie/hommeltuie, beter bekend as UAVs (unmanned aerial vehichles), wat vir waarnemings- en verkenningswerk gebruik word.

Waldu het as projek- leier van die opeklas JS2-sweeftuig met ‘n 21m vlerkspan, baie vervaardigings- en ontwerpervaring opgedoen, wat hom goed toegerus het vir die taak wat nou op hom wag.

Na matriek het hy hom as meganiese ingenieur aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus bekwaam. Vir sy meestersgraad-studie het hy in lugvaart-ingenieurswese gespe- sialiseer, en vervolgens sy ingenieursloopbaan by On Track Technologies in Potchefstroom begin. Daarna het hy ‘n pos by Epsilon aanvaar.
Waldu vertel dat hoewel die sweeftuigmark in Suid-Afrika nie groot is nie, met net ongeveer 300 plaaslike sweeftuigvlieëniers, is dié sport internasionaal gewild, met ‘n lang wag-lys vir nuwe sweeftuie.

Waldu Oosthuizen by die 2024 AAD Expo voor ‘n Embraer C-390 Millennium.

Nagenoeg 40 sweeftuie word gemiddeld jaarliks by Jonker Sailplanes ver-vaardig vir die plaaslike, Afrika- en oorsese markte. Waldu verduidelik dat drie prototipes gewoonlik gebou word vir elke nuwe sweeftuigweergawe, waar-tydens die ontwerp verfyn word om die sweeftuig se werkverrigting en lugvaardigheid te verseker. Die vervaardigingsproses word ook verfyn om die vervaardiging vinnig en akkuraat te doen.

Vir die 30-jarige Waldu het dit harde werk geverg om tot hier te kom. Lug-vaartingenieurswese is ‘n skaars vaardigheid in Suid-Afrika – ‘n beroep wat uiterste noukeurigheid en akkuraatheid vereis.

Wanneer hy oor ‘n paar maande Griekeland sy permanente tuiste maak, is dit sy mense wat hy die meeste gaan mis, sê hy.

“Ek het altyd gesê ek gaan nooit in die buiteland werk nie. Vir lank het ek gebid dat die Here die seisoen vir my sal draai, en daarom weet ek dat die Here hierdie geleentheid oor my pad gebring het,” sê Waldu, wie se kollegas oor jare sy vriende geword het. Oor waarna hy die meeste uitsien vir sy nuwe avontuur, sê Waldu dat hy graag Griekeland se ryk geskiedenis wil gaan verken, en sy ouers, Hennie en Sonja, sy nuwe tuiste wil gaan wys.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button