Kommer oor agteruitgang van Vrystaatse paaie
Gemeenskappe en ekonomiese groei lei onder swak instandhouding van Vrystaatse paaie
“Terwyl werkskepping ’n nasionale noodsaaklikheid bly, kan dit nie die sleutelprestasie-aanwyser (KPI) vir die instandhouding van kritieke infrastruktuur wees nie,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL).
Die organisaie sê boere word tans gedwing om afgetrede padskraper-operateurs op eie koste aan te stel net om agteruitgaande grondpaaie te laat skraap – en dit is slegs wanneer ‘n staatsbeheerde padskraper toevallig operasioneel is. Die gesentraliseerde bestuur van die geel vloot, tesame met voorkeur-verkrygingstelsels, het gelei tot die ineenstorting van onderhoud en herstelwerk aan noodsaaklike staatsvoertuie en -toerusting.
Wilken kritiseer die Uitgebreide Openbare Werkeprogram (EPWP) en sê dat hoewel die doelwit
daarvan om plaaslike werk te verskaf prysenswaardig is, dit uiteindelik die armste burgers
afhanklik hou van die regering se subminimum loontoelaes en dikwels met politieke bravade deur lojale kaders versprei word.
Hy waarsku verder dat die kontrakteursontwikkelingsprogram, nog ‘n “edele” inisiatief op papier, soortgelyk misbruik is. “Die herhaalde mislukkings van oorhaastige
kontrakteurs dui op ‘n gekaapte openbare verkrygingsproses, hetsy deur die sogenaamde
konstruksiemafia of deur politici self.
“VL het op aandrang van sy lede, die Departement herhaaldelik gewaarsku oor die swak en
vertraagde vakmanskap van aangestelde kontrakteurs. Projekte soos die R709 Tweespruit–
Excelsior-pad en die onlangs beëindigde R708 Clocolan–Marquard-pad is uitstekende
voorbeelde,” sê Vrystaat Landbou.
Wilken hou vol dat indien die Departement VL se oproep gehoor gegee het om onafhanklike raadgewende ingenieurs aan te stel om hierdie projekte te bestuur en toesig te hou, soos internasionale beste praktyk is, hierdie mislukkings vermy kon gewees het.
Nog ‘n voorbeeld hiervan is die R59-ompad naby Viljoenskroon, waar ‘n
200m lange gedeelte, wat drie jaar gelede oorstroom is, steeds onder water is. Geen werk het
nog begin nie, en die ompad deur die dorp se nywerheidsgebied het daardie paaie in puin gelaat.

VL sê hy wag steeds op ‘n reaksie op sy Memorandum oor Vrystaatse Paaie, wat in Februarie 2025 aan die LUR oorhandig is. Hierdie dokument beskryf sistemiese probleme binne die
Departemente van Gemeenskapsveiligheid, Paaie en Vervoer, en Openbare Werke, wat ook
deur raadslede en opposisiepartye met die Vrystaatse Wetgewer geopper is. Tog is min
vordering gemaak. “Gevolglik ly gemeenskappe, ekonomiese groei word gesmoor, en kriminele sindikate versterk hul greep,” waarsku Wilken.
Boere vul ‘n vakuum
Boere bestee hul eie geld om kritieke landelike paaie in stand te hou, wat noodsaaklik
is nie net vir hul besighede nie, maar ook vir hul gesinne, werkers en omliggende gemeenskappe om toegang tot skole en nooddienste te kry.
Dit is onvolhoubaar en herlei fondse wat andersins belê kon word om plase, die sektor en die Vrystaatse ekonomie te laat groei, sê VL.
“As die hoofdryfkrag van ekonomiese groei in die provinsie, voed ons boere die nasie en verskaf meer as 70 000 werklike boerderywerkgeleenthede in die Vrystaat. As boerderywinsgewendheid aanhou afneem weens regeringsideologie, sal meer werkgeleenthede verlore gaan en voedselsekerheid bedreig word,” sê Wilken.
Ten spyte van die uitdagings verwelkom VL die vordering wat gesien is met paaie wat na
SANRAL oorgedra is, danksy volgehoue druk van georganiseerde landbou, en prys die
InfrastruktuurSA-loodsprojek wat kritieke vervoerroetes vir prioriteitsaksie in die provinsie
identifiseer. “Dit is die positiewe ontwikkelings wat ons kan erken en vier soos Vervoermaand tot ‘n einde kom,” sluit Wilken af.

R59
Verskeie motoriste het die afgelope week ook weer groot en diep slaggate op die R59 tussen Parys en Vredefort, duskant Vredefort in die rigting van Kroonstad, en tussen Parys en Sasolburg gerapporteer.
Hoewel van hierdie gate veral op die gedeelte tussen Parys en Sasolburg kort gelede reggemaak is, het dit weer met die afgelope twee weke se reën oopgespoel.






