Die Gautengse LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het vandeesweek se arrestasie verwelkom van ’n verdagte wat in besit gevind is van gesteelde openbare infrastruktuur, insluitend verkeersligte, ná ’n gesamentlike operasie deur lede van die Ekurhuleni Metro Polisie (EMPD) se Thathazonke Anti-Misdaad- en Diefstal-eenheid, en die Gautengse Vervoerinspektoraat.
Die operasie vorm deel van verskerpte pogings om infrastruktuur-vandalisme en georganiseerde sindikate wat kritieke padbates teiken, die hok te slaan.
Tydens die arrestasie het beamptes verkeersligte, toerusting uit beheerkaste, asook bestuurslisensies en identiteitsdokumente wat in die verdagte se besit was, teruggevind.
‘n Verkeerslig in ‘n huis waarop beslag gelê is Foto: Verskaf
Die verdagte is sedertdien by die Katlehong SAPD aangehou.
LUR Diale-Tlabela het die betrokke beamptes geloof vir hul vinnige en gekoördineerde optrede.
“Hierdie arrestasie demonstreer die onwrikbare verbintenis van ons verkeersinspektoraat en wetstoepassingsvennote om openbare infrastruktuur te beskerm. Diefstal van verkeersligte is nie ’n slagofferlose misdaad nie; dit stel lewens in gevaar, ontwrig mobiliteit en skep ’n onnodige finansiële las,” het LUR Diale-Tlabela gesê.
Die LUR het beklemtoon dat die regering vasberade bly in sy stryd teen infrastruktuur-vandalisme en kriminele sindikate.
“Hierdie arrestasie stuur ’n duidelike boodskap: dié wat openbare bates beskadig en steel, sal opgespoor en tot verantwoording geroep word. Ons sal voortgaan om ons samewerking met metropolitaanse polisie, die SAPD en gespesialiseerde eenhede te versterk om ons paaie en verkeersbestuurstelsels te beveilig,” het sy bygevoeg.
Van die verkeersligte waarop beslag gelê is
Die LUR het ook ’n beroep op gemeenskappe gedoen om ’n aktiewe rol te speel deur verdagte aktiwiteite rondom verkeersligte, beheerkaste en ander padinfrastruktuur aan te meld.
Die ondersoek duur voort, en nog arrestasies mag volg.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.