Ouerkomitee en personeel vat hande by klerebank
Onthou klerebydraes wat jy vir die klerebank wil skenk sal verwelkom word en kan by die skool afgegee word.
Klerebanke by skole is vir baie in finansiële nood ‘n uitkoms, maar vir personeel en die ouerkomitee van Primêre Skool Parys is dié skool se klerebank sy trots.
Marissa Strauss vertel dat die skool se ouerkomitee aan die begin van 2025 hande gevat het met die personeel om die klerebank ‘n splinternuwe voorkoms te gee.
Sedertdien staan ouers en leerders verstom wanneer hulle by dié netjiese klerebank instap waar voorraad netjies, skoon en gesorteer hang.
Die klerebank fokus hoofsaaklik op kinders uit gesinne in nood en word die behoefte by die dag groter, sê Marissa. Voorraad word opgebou uit skoolklere-skenkings wat die skool ontvang dikwels wanneer klere té klein raak, of wanneer kinders klaarmaak met hul laerskoolloopbaan.
‘n Minimale bedrag wat vir die items in die klerebank gevra word, help dat elke item wat ontvang word, eers gewas kan word, en nodige herstelwerk soos ritssluiters en knope aanwerk, gedoen kan word.

Die duurste item in die klerebank kos R20. Elke rand wat ontvang word, word teruggeploeg in die klerebank om seker te maak dat in elke behoefte van kinders wat afhanklik is van die klerebank, voorsien kan word – of dit ‘n paar kouse of ‘n trui is – wat nodig is moet kinders hier kan kry.
Daar is ook geleentheid vir mense om klere gratis te kom ruil vir ‘n ander grootte of item van gelyke waarde mits die kledingstuk nog in ‘n goeie toestand is.
Personeel help om ‘n oog te hou oor waar daar nood is, en word seker gemaak dat elke kind met trots ‘n skooluniform kan dra.
Die klerebank word op Maandae en Vrydae tussen 07:30 en 10:00 deur ouerkomiteelede beman, terwyl Marissa Dinsdae en Donderdae tussen 13:00 en 13:30 by die klerebank help.



