Local newsNews

Eerste vroue hoof vir munisipale brandweerdiens

Vanessa Rossouw is 'n gebore Vrystater wat waardevolle kennis en jarelange ervaring toevoeg tot die brandweerdiens.

Met meer as 30 jaar brandweerdiens ervaring, staan Vanessa Rossouw sedert die begin van die jaar haar skoene vol as hoof van die Ngwathe Brandweer- en Reddingsdiens.

Die gebore Vrystater was die afgelope sowat 15 jaar’n divisie-offisier van Sasol se brandingenieursafdeling.

Haar visie is om weer ‘n professionele, funksionele en diensbare brandweerdiens vir die gemeenskap te lewer waar enige lid van die gemeenskap met vrymoedigheid sal kan aanklop vir brand- en reddingshulp, sê sy.

Vanessa het in Bloemfontein grootgeword en was een van die eerste vroue wat by die Bloemfonteinse brandweerdiens aangestel is.

Sy was vir meer as 11 jaar by die Bloemfonteinse brandweerdiens waar sy ook vir sewe jaar stasie-offisier was. Sy was vir vyf jaar by opleiding betrokke voordat sy in 2007 haar geboortestad gegroet het vir ‘n pos by Sasol as senior stasie-offisier: Operasioneel.

Hier het sy later divisie-offisier – eers by Sasol Operasioneel, en toe by Sasol se ingenieursafdeling geword, en was sy nou gemoeid met brandvoorkoming en wetstoepassing.

Hoewel die Ngwathe-brandweerdiens in Parys groot uitdagings het met vyf dorpe wat bedien moet word (met die uitsondering van Heilbron wat ‘n beperkte brandweerdiens lewer), en beperkte en onvoldoende toerusting en voertuie, sien Vanessa kans vir die uitdaging saam met haar regterhand Maggie Mokwane, en haar personeel.

Maggie is 1 Desember as stasie-offisier aangestel en sy en Vanessa het waardevolle kennis en ervaring van brandweer en nooddienste.

Maggie is reeds 21 jaar by die brandweer in Parys, en het aanvanklik in 1997 by die munisipaliteit begin werk. Eers was sy ‘n klerk, later ‘n biblioteekassistent in Koppies en toe toesighouer by die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanleg in Koppies. In 2005 word sy aangestel by die munisipale brandweerdiens.

Vanessa het haar B.Tech Brandweertegnologie & Ambulans Noodsorg Assistent Diploma, en het verskeie relevante kursusse voltooi. Maggie het haar ambulansassistent sertifikaat, ‘n NQF Vlak 4-kwalifikasie as brandbestryder, en haar Hazmat awareness & Operational kwalifikasies verwerf. Sy het ook ‘n SAMTRAC Safety Management NQF Vlak 5-sertifikaat, en is tans besig met haar Nasionale Diploma studie in Brandtegnologie.

Beide vroue glo dat kennis geloofwaardigheid bring in die diens wat jy lewer.

Stasie-offisier Maggie Mokwane, saam met Vanessa Rossouw, hoof van die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens.
Stasie-offisier Maggie Mokwane, saam met Vanessa Rossouw (regs), hoof van die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens.

“Ons harte is in die brandweerdiens,” sê hulle. Die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens se telefoonlyne word 24 uur beman.

Die korrekte nommers om te skakel is

082 909 3464 of

067 424 2372.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button