Nog geen geregtigheid na moord op geliefde kerkman
"Hy het nie verdien om so te sterf nie."
Meer as twee jaar ná die moord op die 72-jarige Kenny Browne, wat met sy lewe geboet het vir sy selfoon, beursie, ‘n gasbottel en skootrekenaar, is die verhoor van die twee mans wat in verband met die sinnelose moord aangekeer is, steeds nie afgehandel nie.
Blonde Motale en Piet Mbele, wat kort ná die moord in hegtenis geneem is, sal op 14 April 2027 in Kroonstad voor die hof verskyn.
Albei is van die Tumahole-woonbuurt, en is sedert hul arrestasie in aanhouding nadat die hof borgtog geweier het.
Kenny is op 3 Maart 2024 deur sy moordenaars met ‘n plastieksak versmoor.

Margie Frare, ‘n gemeentelid van die Metodistekerk, het hom dood in sy huis in Fochstraat aangetref nadat sy daardie oggend onraad vermoed het toe hy nie, soos gewoonlik, by die kerk opgedaag het nie. Hy het altyd gehelp met die reëlings vir die erediens. Kenny se selfoon, asook die selfoon van ‘n ander bejaarde vrou van Parys wat in haar huis oorval en aangerand is, is in die verdagtes se besit gevind. Die polisie het ook beslag gelê op Kenny se skootrekenaar en elektroniese ware wat oënskynlik deur die verdagtes verkoop is.
Die hof het tydens die formele borgtogaansoek van Motale en Mbele destyds gehoor dat albei ‘n lang lys vorige veroordelings het.
Motale en Mbele is ná knap speurwerk deur speurders van Parys, lede van Misdaadvoorkoming en Misdaadintelligensie in hegtenis geneem. Die ondersoekbeampte in die moordsaak was adjudant-offisier Jaco Venter, terwyl sersant Tami Nqai die huisrooftsaak ná die aanval op die bejaarde vrou ondersoek het. Die huisrooftsaak kom weer in Maart 2027 voor.
Browne se dood het die gemeenskap van Parys platgeslaan. Oor die jare was hy besonder geliefd, veral by die Metodistekerk, waar hy baie betrokke was. Hy was ook ‘n lekeprediker.
Die Here en die kerk was sy lewe.
Cathy du Plessis het in 2024, nadat die nuus van sy moord bekend geword het, gesê dat Kenny ‘n hart so groot soos die wêreld gehad het en ‘n kind van die Here deur en deur was. “Hy het nie verdien om so te sterf nie.”
Kenny was nooit getroud nie en het alleen gewoon. Die huis waarin hy vermoor is, is sedertdien gesloop.



