Local newsNews

Moord op weermaglid: Lyfwagte kry borg

Die saak sal weer op 9 April in die hof voorkom.

Die twee lyfwagte van die burgemeester van die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit Thabang Eugene Sohole (41) en Michael Makampe (42) wat tereg staan op klagte van moord op ‘n weermaglid, Michael Swanton, het vandag elk borgtog van R20 000 in die Pretoriase hooggeregshof gekry. Hulle staan naas die klagte van moord ook tereg op klagtes van dwarsboming van die gereg en die gebruik van blou ligte op ‘n ongemagtigde voertuig op ‘n openbare pad.

Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in Gauteng, spruit die klagtes uit ‘n voorval waartydens Swanton en sy vrou, albei lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), op 28 Januarie omstreeks 20:00 op Eskia Mphahlele-rylaan in die rigting van die R80 gery het toe hulle voorgekeer is deur ’n donkekleurige BMW-SUV met flikkerende blou ligte. Op die R80 in die rigting van Mabopane is die egpaar gedwing om langs die pad stil te hou.

Daar word beweer dat Sohole en Makampe uit die BMW geklim het, met een van hulle wat glo met ’n R5-geweer gewapen was, en die egpaar se voertuig genader het. Die oorledene was in die passasiersitplek, terwyl sy vrou bestuur het. Die twee het glo die egpaar ondervra oor ’n vermiste agterste nommerplaat voordat hulle na hul voertuig teruggekeer het.

Swanton het hulle toe gevolg om hul identifikasie te verifieer en vas te stel of hulle polisiebeamptes met wettige magtiging was om hulle voor te keer en te ondervra. Toe hy die BMW nader, is hy na bewering in die kop geskiet en is hy op die toneel oorlede.

’n Paar uur later het die twee beskuldigdes hulself by die Hercules-polisiestasie oorgegee en beweer dat hulle slagoffers van ’n poging tot kaping was en dat ’n skietvoorval op die R80 plaasgevind het.

In die hof het die staatsaanklaer, Chris Maruma, hul vrylating op borgtog teengestaan op grond daarvan dat hulle moontlik staatsgetuies kon beïnvloed en met die ondersoek kon inmeng. Landdros Mphahlele het egter bevind dat buitengewone omstandighede bestaan wat hul vrylating op borgtog regverdig. Hy het verder beveel dat die twee nie direk of indirek met staatsgetuies kontak mag maak nie.

Illustrasiefoto
Illustrasiefoto

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button