Feestelikheid van hoeksteenlegging herhaal met Moederkerk se 142-jaar viering
Die viering van die Moedergemeente se 142ste bestaansjaar val ook saam met die viering van Parys se 150ste bestaansjaar.
In 1899 is die hoeksteen van die NG Moedergemeente in Parys gelê. ‘n Groot en spoggerige geleentheid wat selfs deur die president van die Vrystaat, en die moderator van die sinode as hoofspreker bygewoon is. Honderd twee en veertig jaar later, is ‘n nuwe inskrywing in dié gemeente se besondere geskiedenis gemaak, toe soos destyds, die moderator van die Vrystaatse en Algemene
Sinode van die NG Kerk, dominee Jan Lubbe, die besondere feesviering op 7 Maart bygwoon het.
In sy treffende boodskap voor ‘n vol saal tydens die ontbytgeleentheid, het dominee Lubbe gepraat oor die kerk vandag. Hy het verwys na die ballinge waaroor geskryf is in Psalm 137, en hul verlies en verlange. Hoe alles vir hulle vreemd was – selfs taal, kultuur en godsdiens. Die verlatenheid wat
hulle beleef het ver van hul land, hul volk en hul God.

Hy het ‘n parallel vergelyking met dié Psalm, en die bekende gedig van Jan F. Cilliers, Dis Al, gemaak waarin die einde van die oorlog beskryf word, en wat met die
oorlog verloor is. Lubbe het ook verwys na die bekende gedenknaald in die noorde van Zambië met sy vier bronspanele wat onderwys, landbou, mediese sorg en die kerk se belangrike funksie ten opsigte van gebed uitbeeld.
Hy het daarna aangehaal uit Handelinge 16:25 waar Paulus en Silas in gevangenisskap gebid het, en die gevangenes geluister het terwyl Paulus met sy voete in blokke geboei, ‘n loflied gesing het.
Lubbe het benadruk dat Paulus se boodskap was dat jy in alle omstandighede bly moet wees.
Hy het daarna met verwysing na Paulus en Silas die vraag gevra – “watter twee van julle sal in die middernag wat ons beleef sing, want dit kos net twee om ‘n verskil te maak”.
Hy het gesê dat mense vandag ook vreemdheid en verlatenheid beleef, maar dat die verskil tussen Psalm 137 en Handelinge 16 is – die lig wat Paulus se oë geopen het. “Dit kos net twee om ons oë vir die toekoms te laat oopgaan,” het Lubbe gesê.
“Ek het nie antwoorde vir die uitdagings van Parys, Babel, Fillippi, die Vrystaat of Zambië nie, maar mag twee van ons opstaan en ‘n loflied aanbied,” het hy gesê.



By keurig gedekte tafels is ontbyt die oggend in die kerksaal bedien. Onder die gaste was
ook die gemeente se twee oudste lidmate, Corrie Bouwer (92) en haar skoonsus, Hanna de Jager (90).



Die lui van die kerkklok, waarna elkeen wat die oggend bygewoon het, ‘n kers kon doodblaas ter viering van 142 genadejare vir die gemeente, het die oggend op ‘n gepaste wyse afgesluit, en is ‘n spesiale dankseggingsdiens met musiek en ‘n uitstalling van hoogtepunte van die kerk
se kleurryke geskiedenis ook Sondag 8 Maart aangebied.


Die feesnaweek het fyn beplanning geverg en is daar dankie gesê aan Darien Oosthuizen vir die leiding wat sy geneem het.

Die Moedergemeente se viering van sy 142ste bestaansjaar val saam met die viering van Parys se 150ste bestaansjaar.
Ontstaan van die Moedergemeente
Die Moedergemeente is op 8 Maart 1884 gestig nadat daar van Heilbrongemeente afgestig is, Vandag is dit een van die oudste kerkgeboue in Parys. Dit is dan ook tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar.

Die gemeente se eerste leraar was ds. Dönges en sou die gemeente oor die jare in totaal 14 leraars hê. Die aanvanklike kerkgebou wat gebruik is, het gou té klein geword vir ‘n groeiende gemeente, en is daar op 14 Januarie 1899, net voor die oorlog, die hoeksteen gelê vir ‘n nuwe kerkgebou.
Die werklike bedoelde inwyding van die kerkgebou kon egter nie plaasvind nie weens die Anglo-Boereoorlog wat op 11 Oktober 1899 verklaar is.



