Vier vas ná aanval op Vrystaatse polisielede
Drie klagtes van poging tot moord word deur die polisie ondersoek na aanleiding van die voorval.
Die polisie in Harrismith het vier verdagtes gearresteer ná ’n aanval op drie polisielede wat van diens was.
Die voorval het Sondag 27 September in die vroeë oggendure gebeur toe die polisielede na bewering deur ’n groep van vyf persone aangeval is.
Volgens die polisie het een van die drie polisielede gesien hoe sy kollegas deur die groep aangeval word, en hulle te hulp gesnel waarop hy self ook aangerand is.
Al drie polisielede het tydens die voorval beserings opgedoen en is in plaaslike hospitale vir mediese behandeling opgeneem.
Die vyf verdagtes het met ’n onbekende voertuig van die toneel gevlug. Vier van die vyf is egter opgespoor en in hegtenis geneem, terwyl die vyfde verdagte nog soek is.
Die vier het vandag, Dinsdag 29 September, voor die hof in Harrismith verkyn.
Die polisie ondersoek klagte van moord. Die ondersoek duur voort.



