Sterkstaan: Boeredag gee hoop, antwoorde en geloof vir plantseisoen
Die Sterkstaan Boeredag vanjaar vir die tweede jaar agtereenvolgens by Noble Estates net buite Parys aangebied.
El Nino en die gepaardgaande droogte wat vir die laaste deel van 2026 deur die Weerdiens voorspel word, en na verwagting nog tot Februarie 2027 kan voortduur, laat boere met baie twyfel en onsekerheid oor wat die seisoen inhou. Dit te midde van stygende brandstof- en bemestingpryse, swak graanpryse, en bek-en-klouseer se nadraai, veroorsaak dat die druk wat op boerderye en hulle mense geplaas word ongekende vlakke bereik.
Om boere en besigheidsmanne se harte reg te kry vir die uitdagings van die plantseisoen wat eersdaags in volle swang kom, word die Sterkstaan Boeredag vanjaar vir die tweede jaar agtereenvolgens by Noble Estates net buite Parys aangebied.

Hierdie dag is ‘n inisiatief van die boeregemeenskap van Vredefort. Kerke, die boereverenigings en die gemeenskap van Vredefort,werk saam om hierdie dag aan te bied en elke boer en sy gesin word genooi om die dag by te woon.
Vanjaar se sprekers sluit in Hendrik de Beer, ‘n saai- en beesboer van Senekal Hy kom deur baie seisoene se lewe op die plaas, en gaan sy lewensondervinding en wysheid deel.
Albert Ferreira kom deel sy getuienis van hoe hy sy grond verloor, en sy boerdery daarna wonderbaarlik herstel is. Sy vrou, Dalena, is ‘n boervrou met ‘n groot liefde vir perdry. Sy kom deel inspirasie vir hoe vroue die uitdagings in ‘n boerdery moet hanteer.
“Moenie hierdie seisoen met twyfel in jou hart ingaan nie. Kom maak ‘n belegging in jouself, want jy is die belangrikste element van die hele boerdery. Kom kry hoop, antwoorde en geloof vir die uitdagings wat voorlê!” sê Juan Greeff, een van die organiseerders van die boeredag.
Die Sterkstaan Boeredag vind plaas Woensdag 7 Oktober by Noble Estates net buite Parys.
Die program begin om 08:30 met koffie en beskuit. Die verwelkoming vind plaas om 09:00, waarna die sprekers aan die woord kom.
Koffie en verversings word tussendeur bedien, en die dag sluit om 13:00 af met ‘n heerlike spitbraai, aangebied La Oma Slaghuis.
Die koste is R200 per persoon en besprekings kan gedoen word aanlyn op die Google Forms platform, of deur middel van Whatsapp. Kontak Juan Greeff by 079 874 1860 om te bespreek of vir meer inligting. Die laaste dag vir bespreking is Maandag 5 Oktober.
Mense wat nie die spitbraai-ete aan die einde gaan bywoon nie, is baie welkom om die boeredag gratis by te woon.



