Local newsNews

Dis kruisbou en skoonmaak dié naweek vir Vredefort se Kruistog

Daar gaan gepoog word om Saterdag sowat 500 houtkruise te bou.

Die klein Vrystaatse dorpie Vredefort, beleef tans ‘n gewerskaf van ‘n ander wêreld. Daar’s bome wat gesaag moet word, rommel wat weggery moet, gras wat gesny gaan word, sypaadjies wat mooi gemaak moet word, en sowat 500 kruise wat die naweek gebou moet word. Maar wat sit agter die operasie regruk? Net twee woorde – Die Kruistog – ‘n projek wat deur mense van Vredefort en die distrik vir die vyfde jaar agtereenvolgens aangepak word, om vir mense ‘n besondere Paasbelewenis te gee.

Vanjaar se Paas-Kruistog is op Goeie Vrydag 3 April van 10:30 tot 13:00 by Vredefort se sportgronde. Op die dag sal mense ook hul kruise opneem en ‘n sirkelroete deur die dorp stap.

Elke jaar as die groep passievolle mense uit verskillende kerkagtergronde skouer aan die wiel sit vir die voorbereidings, neem die Kruistog sy eie karakter aan.

Elke jaar word ook ‘n nuwe vlot gebou wat aan die voorpunt van die Kruistog is. Vanjaar se vlot stel ‘n oop Bybel voor wat aansluit by die teks uit Johannes 1:14 en word reeds elke dag by die Dinamika-gemeente vanaf 09:00 gevou aan die duisende plastiekblomme wat nodig is vir die vlot. Enigeen is welkom om te kom help vou. Kom soos jy is en word deel van die unieke Kruistog-belewenis.

Naas die vlot sal daar ook ‘n replika van die oorspronklike grootte kruis gebou word.

Volgens die orgniseerders van die Kruistog bied dit mense ‘n Via Dolorosa-belewenis hier in die hart van die Vredefort Koepel om die verlossingswerk van Christus aan die kruis te vier.

Maar dit is ook ‘n onvergeetlike ervaring van sang, musiek, simboliek en kruis-dra. Meer nog – die Kruistog bring mense uit alle gemeenskappe saam, nie net in Vredefort nie, maar ook uit buurdorpe.
Kom bou saam aan die kruise hierdie Saterdag, 21 Maart, vanaf 10:00 by die Dinamika-gemeente kerksaal. Bring ‘n batteryboor met square bit saam as jy kan. Skroewe en houtlym word voorsien.

Vredefort se mense beweeg deur die dorp se strate vir die 2025 Kruistog. Foto: Liezl Scheepers
Vredefort se mense beweeg deur die dorp se strate vir die 2025 Kruistog. Foto: Liezl Scheepers

Jy kan ook ‘n gebed, Woord/Skrif of gedagte op ‘n kaartjie skryf en saambring wat aan die kruise vasgeheg sal word wat onder kruistoggangers uitgedeel gaan word.
Om 12:00 is daar heerlike worsbroodjies vir middagete.

Kom werk, kom kuier en kom deel in die lekker. Almal is welkom.

Daar is ook Saterdag ‘n dorp skoonmaak wat vanaf die NG Klipkerk gefasiliteer word. Mense kan om 08:00 by die Klipkerk bymekaar kom waar die reëlings vir die skoonmaak getref sal word. Daar sal veral op die parke en oop areas gekonsentreer word. Op Saterdag 28 Maart word nog ‘n dorp skoonmaak gehou wat weer op die Kruistog-roete sal fokus.

Oud en jonk gaan Saterdag kruis bou in Vredefort. Foto: Verskaf
Oud en jonk gaan Saterdag kruis bou in Vredefort. Foto: Verskaf

Vanaf 10:00 kan mense wat by die skoonmaakaksie betrokke was, gaan help kruisbou. -As jy meer inligting wil hê of graag betrokke wil raak by die naweek se skoonmaak en kruisbou, kontak pastoor Juan Greeff by 079 874 1860.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button