N1-padblokkade om veiliger Paastyd op land se paaie te verseker
Die operasie was daarop gemik om misdaad te bekamp, en veiligheid op die land se paaie oor die Paastydperk te bevorder.
’n Multidissiplinêre optrede is Vrydag in die Fezile Dabi-distrik gehou om bewustheid te skep vir padveiligheid en die bekamping van misdaad oor die Paastydperk.
Die optrede het ‘n padblokkade op die N1 langs die Vaal Plaza ingesluit met verskeie rolspelers wat betrokke was, insluitend die Uitvoerende Burgemeester van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit, raadslid Victoria de Beer-Mthombeni, die LUR vir Openbare Veiligheid, SAPD, Ngwathe-brandweer, Binnelandse Sake, Provinsiale Verkeer, Ngwathe Verkeer, Eskom, Burgerlike Toesig, RIMS en SANRAL.


Tydens die padblokkade is voertuie gestop en nagegaan vir nakoming van padverkeerswette. Dit het die verifiëring van bestuurslisensies, die padwaardigheid van voertuie, asook inspeksies vir enige onwettige aktiwiteite ingesluit. Veiligheidsbewusmakingspamflette is ook aan motoriste uitgedeel om verantwoordelike bestuurgedrag gedurende die Paasvakansie te bevorder, het polisiewoordvoerder sersant Josephine Rani gesê.



