TLU SA waarsku oor leemtes in BKS-entstofstrategie
TLU SA meen die huidige enstofbenadering is net 'n druppel in die emmer gegewe die omvang van die Bek-en-Klouseerkrisis in die land.
Die landbou-organisasie TLU SA sê hoewel die Departement van Landbou se verklaring oor entstofproduksie by die Landbounavorsingsraad (LNR), poog om die landbousektor gerus te stel oor die huidige entstofstrategie, daar vrae is oor die praktiese uitvoering en doeltreffendheid van die strategie.
Die organisasie sê met sy betrokkenheid en waarnemings tydens ’n besoek op 6 Februarie vanjaar, is aangedui dat ’n trivalente entstof – wat die SAT 1, SAT 2 en SAT 3 stamme insluit – ontwikkel en beskikbaar gestel sou word. Daar is toe bevestig dat produksie vanaf Maart sou begin, met ’n teiken van 20 000 dosisse per week.
“Die werklikheid tans lyk egter heeltemal anders. In plaas daarvan dat ’n trivalente entstof uitgerol word, blyk dit dat slegs entstowwe vir een stam tans vervaardig en versprei word,” het die organisasie gesê.
“Die entstof wat op 6 Februarie by die LNR se fasiliteit in Onderstepoort besigtig is, is as ’n geregistreerde trivalente entstof vir drie stamme (SAT 1, SAT 2 en SAT 3) aangebied. In werklikheid behels hierdie samestelling vyf komponente, naamlik stam 1 en sy mutasie, stam 2 en sy mutasie, asook stam 3,” sê TLU SA.
Die organisasie wys ook daarop dat wetenskaplikes meen dat so ’n entstof nie eensydig opgebreek word om slegs een stam afsonderlik te vervaardig en te versprei nie, tensy daar spesifieke goedkeuring daarvoor by die registrateur verkry is, of tensy daardie enkelstam-entstof self ook afsonderlik geregistreer is.
“Die vraag wat gevra moet word, is of daar wel goedkeuring verkry is om hierdie vyf komponente, wat saam een entstof vorm, individueel te produseer,” sê Henry Geldenhuys, president van TLU SA.
“Dit is eenvoudig onverantwoordelik om entstowwe uit te rol wat net een stam aanspreek, terwyl ons weet dat al drie stamme in Suid-Afrika voorkom,” sê Geldenhuys.
“Daar is geen waarborg vir ’n boer dat die stam waarvoor hy inent, die een is wat in sy gebied voorkom nie. Sonder behoorlike toetsing en differensiasie van stamme, stel hierdie benadering produsente bloot aan onnodige risiko,” het Geldenhuys gesê.
Die organisasie se standpunt is dat bloedtoetse en behoorlike identifikasie van die dominante stam in ’n gebied ’n noodsaaklike vertrekpunt behoort te wees voordat entstowwe toegedien word.
TLU SA sê die organisasie is ook bekommerd oor die tempo waarteen besluite geneem en geïmplementeer word. “Ons het van die begin af klem gelê op spoed en dringendheid. Tog sien ons geen daadwerklike vordering nie. Kosbare tyd gaan verlore terwyl boere die prys betaal,” sê Geldenhuys.
“Die huidige produksiekapasiteit van ongeveer 20 000 dosisse per week van slegs een stam, is bloot ’n druppel in die emmer gegewe die omvang van die BKS-uitdaging in Suid-Afrika. Hierdie tempo en benadering gaan ons nie betyds bring waar ons moet wees nie,” sê Geldenhuys.
“Dit sou baie meer sinvol wees om die vervaardiging uit te kontrakteer aan internasionale laboratoriums wat oor die nodige kapasiteit en kundigheid beskik om binne ’n kort tydperk voldoende, doeltreffende entstowwe beskikbaar te stel. Op hierdie stadium ploeter ons voort met ’n benadering wat nie tred hou met die dringendheid van die situasie nie,” het die organisasie gesê.



