Minister bevestig premier se versoek vir oordrag van R59 na Sanral
Die groot en diep slaggate op die R59 is al 'n geruime tyd 'n ernstige bron van kommer.
Die DA sê hy verwelkom bevestiging deur die Minister van Vervoer, Barbara Creecy, dat die proses om die R59 na SANRAL oor te dra, begin het na volgehoue druk.
Die party sê dié ingryping is noodsaaklik om te verseker dat hierdie belangrike ekonomiese slagaar behoorlik herstel en onderhou word, om padgebruikers te beskerm en die plaaslike ekonomieë wat daarvan afhanklik is, te beskerm.
Verskeie padgebruikers wat die afgelope week weer gestrand was met skade aan motorbande en wielvellings weens slaggate op die R59, het aan Gazette gesê dat die situasie onuithoudbaar is met baie van die gate waarvoor nie betyds uitgeswaai kan word nie.
Die R59 begin in Dealesville in die Vrystaat, loop noordoos oor die Vaalrivier, en eindig in Tulisa Park naby Johannesburg. Dit is veel meer as net ’n provinsiale verbindingsroete; dit dien as ’n strategiese alternatiewe vervoerkorridor wat die Vrystaat, Noordwes, Noord-Kaap en Gauteng verbind. Sodoende verlig dit druk op sleutel nasionale roetes soos die N1 en N12, terwyl dit landbou-, industriële en toerisme-aktiwiteite oor verskeie provinsies ondersteun.
‘n Ernstige vragmotorbotsing kort voor die Paasnaweek op die N1 tussen die Kroonvaal Tolplaza en Kroonvaal Engen vulstasie waarin twee vragmotorbestuurders gesterf het, het ook opnuut gewys op die belangrikheid van die R59 as alternatiewe roete tot die N1, toe verkeer vir 20 uur lank via die R59 herlei moes word.
Na aanleiding van die DA se skriftelike versoek is dele van die R59 aan die Gauteng-kant herstel, met werk wat tussen Desember en Januarie 2026 uitgevoer is, het dr Igor Scheurkogel, die DA se Lid van die Parlementêre komitee vir Vervoer, Openbare Werke en Infrastruktuur, vandeesweek gesê na die minister se bevestiging.
Scheurkogel sê die Minister se bevestiging dat die Premier van die Vrystaat nou formeel die oordrag versoek het, sal uiteindelik lewens red en ekonomiese vertroue langs hierdie korridor herstel.
“Hierdie is egter slegs die begin. Die DA sal voortgaan om die proses noukeurig te monitor om te verseker dat daar geen vertragings of pogings is om die oordrag en rehabilitasie van die R59 te ontspoor nie,” het Scheurkogel bygevoeg.
Hy het ook ‘n beroep gedoen op alle Suid-Afrikaners wat die R59 gebruik om die party se petisie te ondersteun. “Openbare druk bly noodsaaklik om aanspreeklikheid te verseker en te waarborg dat die regering sy verbintenisse nakom. Gemeenskappe en padgebruikers verdien veilige, betroubare infrastruktuur”
Volg die skakel https://petitions.da.org.za/p/Fix-R59 om die R59-petisie te teken.



