Local newsNews

Nuwe handleiding belê in kinders se toekoms op Wêreldboekedag

Die handleiding sal ook eersdaags te koop aangebied word vir die publiek.

Solidariteit Helpende Hand het op Wêreldboekedag 23 April, ‘n nuwe vroeë kinderontwikkelingshandleiding bekendgestel wat as kurrikulum by sy Ons Plek-kleuterskole landwyd gebruik gaan word om die ontwikkeling van jong kinders in gemeenskappe te versterk.

Die handleiding, Vroeë kinderontwikkeling: Ons Plek – ‘n Vaste fondament, is die resultaat van vier jaar se navorsing, ervaring in die praktyk en samewerking met kundiges van die Noordwes-Universiteit, asook kundiges uit Helpende Hand se geledere.

Die amptelike bekendstelling het by Ons Plek Kempton Park plaasgevind, met gaste uit die Solidariteit Beweging en akademiese vennote teenwoordig.

Die handleiding word as baanbrekend beskou omdat dit akademiese navorsing en praktiese gemeenskapswerk integreer in ‘n toeganklike Afrikaans-medium gids vir versorgers en opvoeders. Dit bied gestruktureerde, toepaslike riglyne vir die holistiese ontwikkeling van jong kinders en stel ‘n konsekwente benadering tot vroeë leer in gemeenskapsgebaseerde sentrums voor.

Suzette Oosthuizen, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek en Sentrums, en dr. Susan Greyling van die Noordwes-Universiteit by die bekendstelling. Foto verskaf deur Solidariteit Helpende Hand
Suzette Oosthuizen, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek en Sentrums, en dr. Susan Greyling van die Noordwes-Universiteit by die bekendstelling. Foto verskaf deur Solidariteit Helpende Hand

Volgens Suzette Oosthuizen, Solidariteit Helpende Hand se hoof van Ons Plekke en Sentrums, lê die waarde van die projek in die direkte impak op kinders se lewens:

“Hierdie handleiding is die vrug van vier jaar se toewyding. Dit was ‘n pad van navorsing, praktyk en die begeerte om kennis verder oor te dra. Dit is nie iets wat net op papier bestaan nie, maar iets wat werklik in die lewens van ons kleuters belê word. Ons glo dat elke belegging in ‘n jong kind se ontwikkeling ‘n belegging in die toekoms is,” sê sy.

Oosthuizen sê die vroeë kinderjare is waar die grondslag vir leer, gedrag en welstand gelê word. Hierdie handleiding bring akademiese kennis en praktiese gemeenskapswerk bymekaar om te verseker dat kinders nie net versorg word nie, maar werklik ontwikkel en floreer.

Volgens Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, is die projek gewortel in die organisasie se kernmissie van gemeenskapsontwikkeling.

“Die Ons Plekke binne Solidariteit Helpende Hand vervul ‘n reuse rol om seker te maak dat ons kinders toegerus word met die oog op ‘n gelyke kans vir die toekoms. Dit beteken goeie voeding, goeie dissipline, struktuur, ‘n veilige omgewing, omgee, baie liefde, maar natuurlik ook ‘n sterk akademiese opvoeding. Dit is slegs moontlik met ‘n goeie kurrikulum. Goeie personeel met ‘n goeie kurrikulum maak bane gelyk, ook vir dié wat minder bevoorreg is,” sê Noëth. “Daarom is hierdie publikasie vir ons so belangrik. Dit gee ons kinders ‘n gelyke kans. Dit is professioneel saamgestel deur kundiges, uniek ontwikkel volgens ons behoeftes en interessant vir kinders.”

Dr. Susan Greyling van die Noordwes-Universiteit wat by die ontwikkeling van die handleiding betrokke was, beskryf dit as die vervulling van ‘n langtermynvisie: “Hierdie projek het oor vier jaar gegroei uit ‘n gedeelde droom. Vandag sien ons dit realiseer in ‘n praktiese hulpmiddel wat opvoeders toerus om kinders doelgerig te ontwikkel en begelei.”

Die Solidariteit Beweging glo dat opvoeding die hoeksteen is waarop ‘n volhoubare toekoms gebou word. Vanuit hierdie oortuiging het inisiatiewe soos Sol-Tech, Akademia, die Skoleondersteuningsentrum, die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut en die Helpende Hand Studietrust oor die afgelope jare baanbrekerswerk gedoen om jongmense toe te rus. Nou skuif hierdie fokus doelbewus na die vroegste lewensjare onder leiding van Ons Plek-kleuterskole en naskoolsentrums.

Volgens Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, word ’n gemeenskap gemeet aan hoe hy sy mees weerlose mense hanteer. “Ware voorspoed lê nie in finansiële welvaart nie, maar in hoe goed dit met ons kinders gaan. As ’n kind reeds as kleuter begin agterraak, bly hy dikwels agter. Daarom is hierdie handleiding so belangrik want dit help om daardie gaping vroeg reeds te oorbrug,” sê Buys.

Die publikasie dien as ‘n gestruktureerde riglyn om versorgers en opvoeders toe te rus met die nodige kennis en hulpmiddels om kinders se fisiese, emosionele, sosiale en kognitiewe ontwikkeling te ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button