Kappie-kerk se storie van eerstes
Die gemeente het in 2022 sy 150ste bestaansjaar gevier.
Hoewel die Gereformeerde kerkgebou in Parys nie die oudste kerkgebou in die dorp is nie, het die gemeente self ‘n storie van eerstes. Ds. L.J. du Plessis, leraar van die Gereformeerde kerk Rustenburg (1872 tot 1880) het die Gereformeerde gemeente Parys in 1872 onder die naam Gereformeerde kerk Vredefort gestig op ‘n gedeelte van die plaas Vischgat van Jac. Scheepers.
Dit was toe die enigste Afrikaanse kerk in die Noord-Vrystaat.
Die kerkgebou
Die Gereformeerde kerkgebou soos Parysenaars dit vandag ken, was die eerste ultra-moderne kerk in die land, en is in 1955 gebou deur lidmate van die gemeente. Wyle mnr. Johan de Ridder van Pretoria was die argitek. Die kerkgebou het ‘n nuwe rigting van kerkargitektuur begin.
Die revolusionêre ontwerpstyl was in die vorm van ‘n tent wat die tydelike tentwoning van die mens op aarde simboliseer (2 Petrus 1:13). Twee sirkelvormige hout hanglampe met 60 gloeilampe, en al die ruite wat blou is, skep ‘n rustige atmosfeer. Hierdie boustyl het ook in die buiteland bekendheid verwerf.
Parysenaars het mettertyd na die kerkgebou begin verwys as die Kappiekerk omdat die dak herinner aan ‘n Voortrekkervrou se kappie.
Die Gereformeerde gemeente in Parys het sy 150ste bestaansjaar in 2022 gevier.

‘n Besondere kunswerk en lewensgetroue skaalmodel weergawe van die kerkgebou wat hieronder gesien kan word, is etlike jare gelede deur Stoffel Bester uit vuurhoutjies gemaak.

- Hierdie berig vorm deel van Parys Gazette se bylaag ter viering van Parys se 150ste bestaansjaar. Jy kan die volledige bylaag lees by https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/



