Local newsNews

VVA aan die werk vir Nasorgsentrum-droom

Die gemeenskap van Parys maak VVA se hande sterk en kon daar nog altyd staatgemaak word op die gemeenskap se ondersteuning.

Sowat ‘n jaar gelede is Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) Parys se droom vir ‘n Huis van Veiligheid vir kinders van die dorp as tydelike hawe van heenkome bewaarheid, en is dié organisasie in die proses om ook Chrissanloo Huis as jeugsorgsentrum te registreer. Tans is daar vyf kinders wat weens omstandighede uit hul ouerhuise verwyder moes word. in VVA se sorg by die tuiste.

Maar nou is daar nog ‘n droom op die horison- ‘n VVA-nasorgsentrum op die Chrissanloo-perseel vir kinders van graad R tot graad drie wie se ouers andersins nie ‘n nasorgfasiliteit kan bekostig nie. Die spasie hiervoor is beskikbaar, verduidelik die VVA se Sanette Boonzaier. Sy sê egter om die nasorgsentrum in te rig sal sowat R240 000 kos, en word daar staatgemaak op die gemeenskap se ondersteuning om ook hierdie groot behoefte te kan aanspreek.

Omgeehande en harte het hierdie prag tuin en speelplek by Chrissanloo huis moontlik gemaak vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe gesien het. Foto: Liezl Scheepers
Omgeehande en harte het hierdie prag tuin en speelplek by Chrissanloo huis moontlik gemaak vir kinders wat tot nou toe net die skadukant van die lewe gesien het. Foto: Liezl Scheepers


Fondsinsamelingsprojekte soos VVA se jaarlikse Boete, boei-en betaal-projek wat op 22 Mei gehou word, die nou reeds bekende Blokkie-projek, die Musiek Bingo-aand, en ‘n gholfdag wat vir 27 November beplan word, sowel as die maandelikse verkope van gebak en worsbroodjies en ‘n Parys got talent geleentheid wat ook beplan word, help alles om die vele noodsaaklike dienste wat deur VVA in die gemeenskap gelewer word, aan die gang te hou.


“VVA kry slegs minimale staatsubsidie wat alleen nie genoeg is om te kan voorsien in die groeiende nood van ‘n gemeenskap nie,” sê Boonzaier. Net om Chrissanloo Huis te kon inrig as huis van veiligheid, het
R600 000 gekos afgesien van die donasies wat ontvang is. Daar is boonop steeds die maandelikse bedryfskoste van die huis waar alles wat in ‘n normale huishouding nodig sou wees, vir die kinders voorsien moet word.


Skenkings vir klere vir seuns en dogters drie tot 14 jaar, sowel as meubels, linne, breekgoed en kruideniersware, asook geldelike skenkings word daarom altyd verwelkom.


Dieselfde geld vir Lerato Veiligheidshuis, wat in Maart vanjaar na Parys kon skuif nadat ‘n huis bekom is. Die skuif volg op langdurige probleme met watervoorsiening by die oorspronklike perseel.


Lotto-befondsing het wel gehelp om die oorspronklike Lerato Huis in Tumahole te kon opknap om voortaan as kleuterskool vir minder gegoede kinders te kan gebruik. Afdakke by die sopkombuis by die VVA-kantoor kon ook aangebring word danksy Lotto befondsing, maar dit is net ‘n druppel in die groot nood-emmer.


Naas statutêre, maatskaplike en ondersteuningsdienste wat deur die organisasie gebied word, word daar maandeliks by die sopkombuis en met kospakkies voorsien in mense en gesinne se onmiddellike nood.

Die sakpaswinkel help met klere vir hulle wat nie het, en help om inkomste aan te vul, terwyl VVA se dorp skoonmaak inisiatief deur middel van koskoepons, 37 mense daagliks ‘n voedsame maal gee, en terselfdertyd die dorp se strate skoonhou.

“Elke bydrae wat VVA ontvang, hetsy deur die ondersteuning van projekte soos Boete, boei en betaal, of deur die oop harte waarmee die gemeenskap oor jare die VVA help met bydraes, maak ‘n daadwerklike verskil vir hulle wat minder het,” sê Boonzaier.


Daarom is die nasorgsentrum ‘n manier waarop VVA wil teruggee aan die gemeenskap met die diens waarvoor daar ‘n groot leemte is.

Bydraes vir VVA kan by die kantoor in Buitenstraat afgegee word, of skakel VVA by (056) 811 2971. om te hoor hoe jy kan help.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button