Local newsNews

Duisende vier kameraadskap en erfenis by Militêre Fees

Besoekers kon meer leer oor verskeie afdelings – van infanterie tot pantser, verkenningsmagte, artillerie, lugafweer, motorwerktuigkundiges, asook logistieke en administratiewe dienste.


Kameraadskap, herinnering en trots het die koel weer verdryf toe duisende besoekers die Pro Patria Museum (PPM) se jaarlikse Militêre Fees by die Voortrekkermonument bygewoon het. Die geleentheid is oudergewoonte gekenmerk deur ’n diepgewortelde gees van diensbaarheid onder veterane en die breër publiek.

Met meer as 160 stalletjies, insluitend 40 van verskeie militêre veterane- organisasies, was die terrein vroegoggend reeds ’n miernes van bedrywigheid. Die fees het voorwaar iets vir oud en jonk gebied – van boekbekendstellings tot pantservoertuie, demonstrasies, historiese uitstallings en moderne militêre
toerusting.

Die paar reëndruppels het geensins die opgewondenheid of opkoms gedemp nie, maar juis bygedra tot die outentieke atmosfeer wat herinner aan die veld en bos tydens die dienspligjare van weleer.

Een van die opvallendste kenmerke van die dag was die groot aantal besoekers in militêre drag. Van volledige mondering tot kamoefleerdrag en eretekens wat trots vertoon is, het die visuele impak van die erns en trots van militêre diens tasbaar gemaak.

Dit was egter nie net die uniforms wat die dag besonders gemaak het nie, maar veral die emosionele herontmoetings tussen veterane.

Volgens genl. Lawrence Smith, PPM-direksievoorsitter, kon pa’s en oupas nie net memorabilia sien nie, maar die kosbare bande met hul eertydse eenhede asook stories met familie en vriende deel.

“Die doel van die PPM en die jaarlikse Militêre Fees is om erkenning te gee aan ons veterane, nie net aan die persone wat aan die skerp kant baklei het nie, maar ook aan die administratiewe en logistieke steunpilare.

“Ons wil verseker dat dié erfenis bewaar word en ’n platform skep vir die veterane wat in die Bosoorlog gedien het. Só bly die stories en geskiedenis ook vir toekomstige geslagte behoue.”

Jared Giliomee en Evan Giliomee het in die gees van die militêre fees
aangetrek. (Foto: Niël Langner)
Jared Giliomee en Evan Giliomee het in die gees van die militêre fees aangetrek. (Foto: Niël Langner)


Oral op die terrein kon ’n mens sien hoe ou kamerade mekaar ná jare raakloop – handdrukke wat oorgaan in omhelsing, staaltjies wat gelag ontlok, en selfs stille oomblikke van herinnering. Dit was duidelik dat die unieke bande wat deur gedeelde diens gesmee is, onbreekbaar bly.


Die fees het ’n indrukwekkende verskeidenheid trekpleisters gebied. Stalletjies met historiese en moderne vuurwapens het groot belangstelling gelok, terwyl versamelings van uniforms en militêre uitrusting ’n blik gebied het op die ontwikkeling van militêre diens deur die jare.

Die militêre voertuie het oud en jonk gefassineer, en ’n gewilde agtergrond vir foto’s geskep.

Pieter van der Sandt op sy Royal Enfield- motorfiets. (Foto: Niël Langner)
Pieter van der Sandt op sy Royal Enfield- motorfiets. (Foto: Niël Langner)

Vir baie besoekers was die fees nie net ’n dag van vermaak nie, maar ook ’n geleentheid vir opvoeding en bewusmaking. Jonger geslagte het die kans gekry om eerstehands kennis te maak met die geskiedenis en opofferings van die land se dienspligtiges en beroepsoldate.

Veterane het met trots hul kennis gedeel en vrae beantwoord, wat bygedra het tot ’n dieper begrip van ons militêre erfenis.

Die stalletjies van veterane-organisasies het ook belangrike werk verrig deur bewusmaking te skep oor die ondersteuning en hulp wat vir oud-dienspligtiges beskikbaar is.

Dié Ierse doedelsak-orkes het ‘n atmosfeer geskep wat presies by die dag
gepas het. (Foto: Niël Langner)
Dié Ierse doedelsak-orkes het ‘n atmosfeer geskep wat presies by die dag gepas het. (Foto: Niël Langner)

Besoekers kon meer leer oor verskeie afdelings – van infanterie tot pantser, verkenningsmagte, artillerie, lugafweer, motorwerktuigkundiges, asook logistieke en administratiewe dienste.


Kosstalletjies en gesinsvriendelike aktiwiteite het verder bygedra tot die feestelike atmosfeer. Musiek en informele vermaak het die dag afgerond en ’n ontspanne omgewing geskep waar almal welkom gevoel het.


“Die sukses van vandag se fees herbevestig die belangstelling in ons militêre geskiedenis en die belangrikheid daarvan om ruimte te skep waar veterane erkenning kan ontvang en hul stories kan voortleef.

Dit is duidelik dat, selfs jare ná hul diens, die band tussen veterane sterk bly en dat die behoefte aan sulke byeenkomste groter is as ooit,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: bemarking en kommunikasie van die Kultuurtuiste.


“’n Soldaat word nooit oud nie,” voeg Smith by. “Jou liggaam laat jou net toe om minder dinge te doen. Die kameraderie wat ons ervaar het terwyl ons diens gedoen het, verdwyn nooit nie en dit is waarom vandag so ’n lekker lewendige dag is.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button