Local newsNews

Uitdagings reën op boere neer

Ten spyte van dié uitdagings bly boere egter hoopvol en dankbaar want om te boer is om in geloof na Bo te kyk.

Water loop soos riviere in lande met die Vrystaat wat een van sy natste seisoene in jare beleef, en is droër lande veral vir soja- en sonneblomboere nou baie nodig.


Probleme vir graanboere het reeds in Maart begin met die meeste reën in 50 jaar wat in die Parys-distrik gemeet is, vertel Hennie Viljoen. Oor die 200mm is in Maart in die Parys- en Koppies-distrikte gemeet. Vir April het Viljoen 105mm gemeet, wat na die reën van die afgelope paar dae, nou ‘n totaal van 380mm gee wat in die laaste nege weke geval het.


Volgens Viljoen se rekords is dit die meeste nog in dié maande die afgelope 50 jaar. Die Maart/April en Mei-reënsyfer sover is ook gelykstaande aan twee-derdes van wat in ‘n normale seisoen in die distrik gesien word. Ook in die Vredefort-distrik val boere vas in die landerye met tot 40mm reën wat net die afgelope paar dae gemeet is. Benewens sopnat lande, is wenakkers en grondpaaie onrybaar met die water wat nie meer wegsak nie.


Die gevaar is dat sojabone sal begin oopspring as daar nie nou son gekry word nie, wat groot verliese vir boere kan beteken. Sonneblom was al twee weke gelede reg om te stroop, en hoewel die sonneblom nog hou, kan dié plante omval veral as sterk wind nou gekry word. Die plante is ook al baie droog wat beteken dat pitte uit die kop val wanneer boere stroop, en bring elke dag wat boere nie in die lande kan kom nie meer skade.


Die verhoging in die dieselprys kon boonop kwalik op ‘n slegter tyd gekom het. Dit jaag insetkoste op met stroopkoste wat nou verdubbel vergeleke met twee maande gelede. Wanneer lande so nat is, is meer diesel ook nodig om te kan stroop. Tapkarre moet ver ry om graan in die waens en vragmotors te kry weens die verspoelde paaie en deurtrapte wenakkers na die baie reën, sê Barry Coetzee wat in die Vredefort-distrik boer.

Ook in die Vredefort-distrik is om te oes nou ‘n groot uitdaging. Die foto is vandeesweek op 'n plaas in die Vredefort-distrik geneem. Foto: Verskaf.
Ook in die Vredefort-distrik is om te oes nou ‘n groot uitdaging. Die foto is vandeesweek op ‘n plaas in die Vredefort-distrik geneem. Foto: Verskaf.


Tot ‘n maand gelede is reën nog verwelkom maar met groeityd wat afneem in April, is son wat boere nou nodig het. Dit is ook nie net graanboere wat uitdagings het wat op hul reën nie. Ook groenteboere het skade met roes en swaminfeksies as gevolg van die bewolkte en reën weer. Dit word veral ook by pampoen-oeste gesien waar die pampoen té veel water absorbeer en van binne sleg word, sê Juan Greeff. Geo Olivier wat lande in die Parys en Koppies distrikte het, vertel dat dubbelwiele reeds op die stropers gesit is om vroeër in die lande te kom, maar lande bly nat.

Die Vrystaat het van sy natste seisoene die afgelope 50 jaar. Die foto is in die Koppies-distrik geneem. Foto: Verskaf
Die Vrystaat het van sy natste seisoene die
afgelope 50 jaar. Foto: Verskaf


“Sorghum en mielies begin al omval van die reën. Orals is dit maar ‘n uitdaging die rondte, en kostes om oes in te samel hardloop weg,” sê Olivier. En dan is kunsmispryse ook nog op.


Vir mielieboere beteken die hoër insetkoste dat tussen vyf en ses ton gestroop moet word net om gelyk te breek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button