So lyk paaie na Nampo
Nampo word vanjaar gehou van 12 tot 15 Mei by die Nampo Oesdagplaas buite Bothaville.
In ‘n tyd waar landbou toenemend onder druk funksioneer, van klimaatsveranderlikheid en stygende insetkoste. tot mark- en beleids-onsekerheid, plaas Nampo die klem op oorlewing en winsgewendheid.
Die Nampo Oesdag wat die grootste landbouskou in die suidelike halfrond is, word gehou van 12 tot 15 Mei by Nampo Park buite Bothaville.
Vanjaar se tema is Veerkragtigheid deur Innovasie en bied ‘n ontmoetingspunt vir produsente, landboubesighede en die breër waardeketting – ‘n platform waar tegnologie, kennis en praktiese oplossings saamkom.
“Veerkragtigheid gaan nie meer net oor oorlewing nie, maar oor die vermoë om aan te pas, beter besluite te neem en volhoubaar winsgewend te bly. Nampo bring oplossings, tegnologie en gesprekke bymekaar wat produsente nodig het om hierdie uitdagings met vertroue aan te pak,” sê dr Dirk Strydom, besturende direkteur, NAMPO (Edms) Bpk.
Strydom sê verder veerkragtigheid deur innovasie verwoord presies waar landbou in 2026 staan. “Produsente boer in ‘n omgewing van toenemende druk – van klimaatsrisiko en insetkoste, peste en plae, tot mark- en beleids-onsekerheid. Veerkragtigheid beteken vandag meer as om bloot hierdie uitdagings te oorleef. Dit beteken om aan te pas, doeltreffendheid te verbeter, en risiko beter te bestuur.”

Roetes na Nampo
- R30 tusssen Bothaville en Orkney – Oop en toeganklik vir verkeer
- Parys na Viljoenskroon – Baie slaggate, wees versigtig. Wees ook bedag op verkeer
wat herlei word weens vloedwater. - Viljoenskroon na Bothaville – Pad in goeie toestand
- Bloemfontein via Allanridge na Bothaville – Vloedwater tussen Theunissen en
Welkom, pad gesluit - Bloemfontein, Bultfontein, Welkom, Bothaville – Pad in goeie toestand
- Bloemfontein via Wesselsbron na Bothaville – Baie slaggate, wees versigtig
- Potchefstroom na Klerksdorp – Sinkgat by Stilfontein, gebruik eerder die Orkneypad (daar is wel slaggate)
- Klerksdorp na Bothaville via Orkney – Pad in goeie toestand
- Kroonstad na Viljoenskroon – Pad in goeie toestand
- Kroonstad na Bothaville – Pad in goeie toestand
- Hoopstad na Bothaville – Pad in baie swak toestand (onder konstruksie)
- Leeudoringstad na Bothaville – Pad in goeie toestand
Wees uiters versigtig op grondpaaie.
Nuut by Nampo
Besoekers kan uitsien na nuwe produkbekendstellings, insluitend voertuie tesame met ‘n poging om ‘n wêreldrekord te breek, en verskeie nuwe trekkers, terwyl tegnologie ‘n sterk fokus bly met beplande demonstrasies van bespuitingshommeltuie en ander praktiese oplossings.
Die terrein self groei verder met nuwe geboue, addisionele standplase aan die noordekant en ‘n groter verskeidenheid uitstallers, insluitend internasionale deelname deur ‘n Chinese en Italiaanse pawiljoen. ‘n Nuwe ontspanningsarea met verversings, saam met die Six Gun Grill Country Hall, skep verdere geleentheid vir besoekers om te ontspan en die Nampo-ervaring ten volle te geniet.
Die Santam Landbou Vroueprogram, in samewerking met Rooi Rose, bly een van die hoogtepunte en vind weer plaas in die gewilde Rooi Rose-tent. Die program beloof ‘n dinamiese mengsel van inspirasie en vermaak met kunstenaars en persoonlikhede soos Hannon, Willem Botha, Amanda Strydom, Carmién Tea, Reandi Grey, Lizz Meiring, Susan Coetzer, John Rock Prophet en Hannes van Wyk.
Ou gunstelinge
Die gewilde Standard Bank- en Avontuur 4×4 baan bied steeds aksiebelaaide demonstrasies, terwyl die saadpersele aan die oostekant waardevolle inligting gee oor die nuutste genetika en gewasopsies.
In die lig van die onlangse uitbrekings van bek-en-klouseer en die besluit dat geen gesplete-hoefdiere vanjaar by NAMPO 2026 toegelaat sal word nie, sal die TAU Animal Feeds Vee-arena ‘n aangepaste en innoverende ervaring bied.
Nie-risiko diere, soos perde, honde en pluimvee, sal steeds teenwoordig wees onder streng biosekuriteitsmaatreëls.
Telersgenootskappe doen groot moeite om die waarde van hul rasse deur kreatiewe uitstallings uit te beeld, en besoekers kan ‘n nuwe ervaring verwag wat verder strek as die fisiese dier alleen.
Die Graan SA Museum bied besoekers die geleentheid om die ryk geskiedenis van Graan SA en NAMPO te beleef. Geleë langs die voorsitter se onthaalarea aan die westekant van die terrein, vertel die museum die verhaal van die organisasie se ontwikkeling en die groei van NAMPO oor die jare – ‘n betekenisvolle herinnering aan die wortels van Suid-Afrikaanse graanproduksie.
‘n Slimmer en meer toeganklike ervaring
Die Nampo 2026-toep speel ‘n sleutelrol om besoekers se ervaring te verbeter. Met toegang tot meer as 900 uitstallers, verbeterde navigasie en interaktiewe funksies kan besoekers hul roetes vooraf beplan, uitstallings maklik opspoor en die terrein in detail verken. Die toepassing bring alle noodsaaklike inligting – van programme tot video-inhoud – saam op een platform.
Kaartjies
Kaartjies is beskikbaar via OpenTickets (www.opentickets.co.za), met afslag vir aanlyn-aankope.
Hekke open daagliks om 07:00 en sluit om 17:00. Besoekers word herinner dat troeteldiere, fietse, selfaangedrewe karre en motorfietse nie op die terrein toegelaat word nie, en dat die beskikbare pendel- en vervoeropsies die maklikste manier is om die terrein te verken.



