Local newsNews

Monument-boodskappe in dié graad eens se matriekjaar gelees

Die monument op die skoolterrein is destyds onthul vir die 100ste herdenking van die Groot Trek.

Vanjaar se graadeen-leerders sal as matrikulante geskiedenis maak wanneer hulle die voorreg sal hê om die briewe te lees wat 100 jaar tevore deur skoliere van Hoërskool Parys geskryf, en in ‘n geheime spasie in die klipstapel-monument in die skool se Tuin van Herinnering geplaas is.


Die monument naby die skoolsaal is gebou en onthul vir die 100ste herdenking van die Groot Trek in 1938.


Marie van der Merwe van Amot het destyds in 2019 vertel hoe sy (toe nog ‘n nooi, Briel) en haar skoolmaats, elkeen ‘n klip van die huis of plaas af skool toe moes bring, wat deel sou vorm van die klipstapel. Twee ossewaens, die Andries Pretorius-wa en die Hendrik Potgieter-wa het die dorp op 28 Oktober 1938 besoek. Voor die klipstapel is ‘n sementblad voorberei. Die osse het die wa oor die nat sement getrek en die os- en wawielspore gelaat wat vandag nog daar gesien kan word.

Wyle Marie van der Merwe was deel van die groep kinders wat help bou het aan die monument. Foto verskaf: Marli Kruger, Hoërskool Parys
Wyle Marie van der Merwe was deel van die groep kinders wat help bou het aan die monument. Foto verskaf: Marli Kruger, Hoërskool Parys


Die skoolkinders het ook ‘n gelofte afgelê wat geraam is en pryk teen die muur van die skoolhoof se kantoor.


Volgens Marie was dit die destydse skoolhoof, mnr. Van Huyssteen, wat die hele geleentheid gereël het.
Dit was ook die skoolhoof wat opdrag gegee het dat die matrieks van 100 jaar later die boodskappe wat versteek is in die monument, mag uithaal en lees.

Van die graandeens van Primêre Skool Parys by die klipstapel-monument naby die skoolsaal van Hoërskool Parys. Hulle sal in hul matriekjaar die boodskappe lees wat 100 jaar gelede deur matrikulante in die monument geplaas is. Foto: Liezl Scheepers
Van die graandeens van Primêre Skool Parys by die klipstapel-monument naby die skoolsaal van Hoërskool Parys. Hulle sal in hul matriekjaar die boodskappe lees wat 100 jaar gelede deur matrikulante in die monument geplaas is. Foto: Liezl Scheepers


Die geboorte en groei van Hoërskool Parys


Die eerste goewermentskool in Parys is in 1883 in gebruik geneem, met mnr. W.R van der Merwe as onderwyser, en 48 leerlinge in die skool. Dit het egter nie baie goed gegaan met die skool nie, want die ouers was arm en kon nie skoolgeld betaal nie.


Die volgende jaar het dit nog swakker gegaan, en die leerlingtal het gekrimp tot 26, en nog later tot 20.
In 1888 het die munisipaliteit ‘n bedrag geld vir die oprigting van ‘n skool beskikbaar gestel.


Voorheen is die kerkgebou, en private kamers as skoolgebou gebruik. Hierdie ‘skoolgebou’ het later ‘n slaghuis geword.


Ná die Anglo-Boereoorlog was die gebou te klein en is die ou polisiekantore as skoolgebou gebruik.
Die skoolhoof na die oorlog was mnr. D.C. Flett. Daar was toe sowat 300 leeerders, maar die skoolbesoek was maar “erg ongereeld,” met ‘n gemiddeld van 100 kinders per dag afwesig!


In 1905 is die huidige hoërskool se sentrale gedeelte met sandsteen gebou. Daarna is verskeie kere by die skool aangebou.


In 1931 kry die skool ‘n skoollied, geskryf deur prof. Benedictus Kok. Hy gee ook die bewoording “Suum Cuique” op die skoolwapen.


In 1935 verskyn die skool se eerste jaarblad. In die welkomswoord van die destydse Direkteur van Onderwys, mnr. Henri Pellissier, sê hy tereg: “Dit is ‘n maklike taak om oor te gaan tot die uitgee van ‘n skoolblad, maar dit is baie moeiliker om daarna jaarliks vol te hou met wat begin is.”


Die jaarblad het inderdaad elke jaar daarna verskyn, behalwe gedurende die oorlogsjare.


In 1946 het die skool geskei in ‘n laerskool (die Volkskool) en die hoërskool soos ons hom vandag ken, met mnr. J. van Huyssteen as skoolhoof.


In 1954 word die eerste leerlingraad gekies, en in 1955 word die nuwe skooldrag in gebruik geneem.
In April 1958 word die pawiljoen ingewy en vernoem na een van die geliefde onderwysers, Danie Heese.
In 1960 word die nuwe skoolsaal, die Wessel Steyn-saal, ingewy en in 1972 word die dubbelverdiepings met laboratoriums aangebou.


(Bronne: Skoolgeskiedenis – Hoërskool Parys jaarblad 2008; Spesiale dank aan Marli Kruger vir die inligting en foto van Marie van der Merwe)

Uit die argiewe

Die oorspronklike laerskoolgebou soos dit destyds gelyk het. Foto: Transnet Heritage Library, Johannesburg.
Die oorspronklike laerskoolgebou soos dit destyds gelyk het. Foto: Transnet Heritage Library, Johannesburg.

Lees meer oor die geskiedenis van Parys by  https://www.citizen.co.za/parys-gazette/epapers/parys-150-jaar/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button