Die prys wat slaaploosheid jou kos
Chroniese slaaploosheid kan negatief inwerk op jou gemoed en lei tot verhoogde vlakke van depressie.
’n Plaaslike studie het gewys dat byna ‘n derde (30,2%) van Suid-Afrikaners sukkel met slaapprobleme, met verreikende gevolge vir gemoedstoestand, konsentrasie, produktiwiteit en langtermyn kardiovaskulêre gesondheid.
Hoewel baie mense swak slaap as ’n normale deel van die moderne lewe afmaak, waarsku dr. Irshaad Ebrahim, psigiater by Mediclinic Constantiaberg, dat chroniese slaapontwrigting ernstiger kan wees as wat dit voorkom.
“Ons mag almal ’n paar nagte per week hê waar ons nie genoeg slaap nie,” verduidelik hy. “’n Mediese diagnose van slapeloosheid kan egter nodig wees vir mense wat meer as twee nagte per week daaronder ly, en wat weer lei tot dagsimptome soos moegheid, slaperigheid en ’n negatiewe invloed op die alledaagse lewe.”
Hy voeg by dat hierdie simptome, volgens internasionale diagnostiese kriteria, vir minstens een maand moet voortduur voordat slapeloosheid formeel gediagnoseer kan word.
“’n Verminderde hoeveelheid of verswakte kwaliteit van slaap beïnvloed daaglikse funksionering op verskeie maniere,” verduidelik dr. Ebrahim. “Dit sluit ’n invloed op die vermoë in om te konsentreer, take aan te pak en te voltooi, asook gevoelens van prikkelbaarheid gedurende die dag.”
Met verloop van tyd waarsku hy egter dat hierdie gevolge kan vererger. “Indien dit voortduur, kan dit ’n negatiewe invloed op gemoed hê, met verhoogde vlakke van depressie wat by pasiënte met chroniese slaaptekort aangemeld word.
“Chroniese slapeloosheid het ook ’n aantoonbare en bewese negatiewe uitwerking op ’n mens se kardiovaskulêre gesondheid,” voeg hy by. “Slaapfragmentasie en slaapontwrigting kan ons metabolisme beïnvloed, wat lei tot onverklaarbare gewigstoename en verhoogde algemene stres, wat die risiko vir beroerte en ander kardiovaskulêre toestande verhoog.”
Dr Ebrahim sê egter daar is manier om slaapkwaliteit te verbeter. “Jy kan goeie slaaphigiëne toepas deur ’n gereelde slaap-roetine te handhaaf, omgewingsfaktore aan te pas om slaap te bevorder, en elemente te vermy wat jou gesondheid negatief beïnvloed, soos rook, oormatige alkoholverbruik en ’n swak dieet.”
Dit is egter ewe belangrik om te weet wanneer om mediese advies in te win. “Die kriteria om slapeloosheid as ’n mediese toestand te klassifiseer vereis minstens drie nagte per week van swak slaap, wat gepaard gaan met ’n beduidende invloed op funksionering gedurende die dag,” verduidelik hy. “Wanneer die invloed van swak slaap op iemand se dagfunksionering duidelik sigbaar is, is dit tyd om mediese hulp te soek.”
In sommige gevalle kan versteurde slaap op ’n onderliggende toestand dui, sê dr. Ebrahim. Slaapapnee word byvoorbeeld gekenmerk deur ’n geskiedenis van snork en onderbroke asemhaling en kom meer algemeen voor by individue met ’n verhoogde liggaamsmassa-indeks. “Die risiko vir slaapapnee by mans is drie keer hoër as by vroue,” voeg hy by.
Hoewel slaapopsporingsprogramme en draagbare toestelle al hoe gewilder word, maan dr. Ebrahim tot ’n gebalanseerde benadering. “Slaapmoniteringstoestelle gee jou ’n breë beeld van jou dag- en nagaktiwiteit en funksionering,” sê hy. “Die risiko om té betrokke te raak by jou slaappatrone kan egter inderdaad tot slaapontwrigting en slaaptekort lei. Wanneer ’n mens té gefokus raak op slaap, bevorder jy eintlik wakker wees deur voortdurend daaraan te dink, terwyl die teenoorgestelde nodig is,” sluit hy af.



