Local newsNews

Meer as 80 000 deur Nampo-hekke

NAMPO bly een van die belangrikste platforms vir landboubesigheid en betrokkenheid enige plek in die wêreld. Die gehalte van gesprekke, innovasie en netwerkvorming wat verlede week gesien is, bevestig die veerkragtigheid en langtermynpotensiaal van Suid-Afrikaanse landbou.

Meer as 80 000 besoekers het verlede week die Nampo Oesdag, wat ook die grootste buitelug landbouhandelsuitstalling in die Suidelike Halfron is, op die Oesdag Plaas buite Bothaville bygewoon. Vanjaar was die 58ste Oesdag, en is 81 822 besoekers oor die vier dae op die Oesdagterrein verwelkom.

Die hoogste enkel-dagbywoning was Woensdag 13 Mei met 24 579 besoekers wat deur die toegangshekke beweeg het.

Vanjaar se tema was Veerkragtigheid deur Innovasie en het meer as 910 uitstallers die nuutste landboumasjinerie, tegnologie, insette, dienste en innovasies aan produsente en belanghebbendes vanuit die hele landbouwaardeketting ten toon gestel.

Die lugruim bo NAMPO was net so bedrywig soos die terrein self, met 311 vliegtuie, 100 helikopters en ’n totaal van 657 lugbewegings wat gedurende die week aangeteken is


Weeruitdagings en verkeersdruk

Ten spyte van swaar reënval voor die Oesdag wat groot druk op die terrein en omliggende padinfrastruktuur geplaas het, het uitgebreide voorbereiding en gekoördineerde operasionele beplanning die uitdagings die hoof gebied.

’n Week voor die skou was gedeeltes van die terrein steeds erg versuip ná beduidende reënval. Die span het dag en nag gewerk om seker te maak die park is gereed vir uitstallers en besoekers,” het Dr Dirk Strydom gesê.

Strydom het bygevoeg dat die nat toestande ook verdere druk op verkeersvloei geplaas het aangesien meer as 30km  grondtoegangspaaie nie benut kon word nie, insluitend ‘n bykomende toegangspunt na die noordelikke parkeerarea, wat veroorsaak het dat die meeste verkeer deur die R30-korridor moes beweeg. Hy sê die NAMPO-span ondersoek reeds nuwe moontlikhede om toegang tot die terrein te verbeter en om potensiële oplossing saam met SANRAL, die eienaar van die R30, te bespreek.



Die verkeersdruk is Woensdag vererger deur die Toyota South Africa Motors Toyota Hilux Guinness Wêreldrekordpoging wat by NAMPO Park aangebied is. Dit het ‘n totaal van 1 545 Hilux-bakkies na die terrein gelok en tydelik verkeersvloei rondom die Oesdagterrein beïnvloed.

“Hoewel die verkeersopeenhopings verstaanbare frustrasie vir sommige besoekers veroorsaak het, waardeer ons opreg die geduld en ondersteuning van die publiek. Ons spanne het nou saam met verkeersowerhede gewerk om die situasie so vinnig moontlik te stabiliseer. Ons is ook trots dat NAMPO só ’n unieke wêreldklas-rekordpoging saam met die Oesdag kon aanbied,” het Strydom gesê.

Landbou se veerkragtigheid ten toon gestel

Volgens Danie Minnaar het vanjaar se NAMPO weereens die veerkragtigheid en aanpasbaarheid van Suid-Afrikaanse landbou onder moeilike ekonomiese en klimaatsomstandighede bewys.

“Produsente funksioneer in ’n omgewing van stygende insetkoste, infrastruktuuruitdagings, globale onsekerheid en druk op winsgewendheid. Wat vanjaar uitgestaan het, was hoe die bedryf steeds aanpas, innoveer en praktiese oplossings vind,” het Minnaar gesê.

“Oor die hele terrein kon mens sien hoe uitstallers fokus op tegnologie, toerusting, presisiestelsels en produksiemetodes wat daarop gemik is om produsente te help om doeltreffendheid te verbeter en volhoubaar te bly onder moeilike toestande. Daardie gees van veerkragtigheid was oral by NAMPO sigbaar.”

NAMPO bly ’n strategiese bedryfsplatform

Na jare is Nampo steeds ’n kritieke platform vir die hele landbouwaardeketting om oor die toekomstige volhoubaarheid en mededingendheid van Suid-Afrikaanse landbou gesprek te voer, sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA.

“NAMPO is veel meer as net ’n uitstalling. Dit is waar landbou bymekaarkom om oplossings te bespreek, vennootskappe te bou, innovasie te dryf en die realiteite waarmee produsente gekonfronteer word, aan te spreek,” het Krige gesê.


“Vanjaar se gesprekke het gefokus op oplossings vir huidige winsgewendheid en toekomstige volhoubaarheid – die uitvoer van graanoorskotte, asook die uitbreiding van markgeleenthede deur dierlike proteïen en biobrandstof. Dit het weereens beklemtoon dat produsentewinsgewendheid sentraal staan tot voedselsekerheid, belegging en die langtermynvolhoubaarheid van die landbousektor. Produsente kan nie aanhou om stygende insetkoste, logistieke mislukkings en beleids-onsekerheid onbepaald te dra nie.”

Krige het bygevoeg dat NAMPO steeds die belangrikheid van samewerking en eenheid tussen georganiseerde landbou, landboubesighede, regering, navorsers en finansiële instellings demonstreer in die aanspreek van die sektor se uitdagings.


Datums om te onthou

  • NAMPO Kaap word van 9-12 September in Bredasdorp gehou.
  • NAMPO ALFA is van 2-3 Oktober 2026 by NAMPO Park.
  • Nampo 2027 vind plaas van 11-14 Mei by Nampo Park



At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button