Soos ‘n engel waak hawelose vir dae oor verlore hondjie
Tinkie het soek geraak toe haar eienaars besig was om te trek.
Maandagoggend het Danie Smith opgestaan en geweet hy is okay. Maar die dae wat verby is, was van die seerste seer wat hy nog beleef het. Dit was dae waarin hy en sy vrou, Elize, nie okay was nie, nadat hul 18-jarige hondekind, Tinkie, op 13 Mei waarskynlik by ‘n hek uitgeglip het terwyl hulle besig was met die trek van hul koffiewinkel in Van Collerstraat na ‘n perseel in Waterstraat.
Snoesig in haar hondejassie lê Tinkie op Elize se skoot waar ons by Koffie Oppi Stoep gesels. Só ken hulle haar – rustig en tevrede. Wat verlede week gebeur het, kon niemand voorsien het nie. Tinkie is op medikasie en die jare is nie meer aan haar kant nie. Sy het nie meer ver geloop nie, meestal net geslaap. Nie een van die egpaar se ander honde wat by die koffiewinkel was, het uitgekom nie – net sy.
Toe hulle agterkom sy is weg, het hulle radeloos die omgewing gefynkam en selfs by die rivier gesoek. Hulle het ook ‘n plasing op Facebook gemaak met ‘n foto en beskrywing van haar.
Eers was daar die leidraad van Melinda Lessing dat sy by die Jehovah-kerk in Boomstraat gesien is, maar toe Melinda terugdraai, was Tinkie skoonveld.
Toe volg ‘n oproep van ‘n man wat gesê het hy het haar die middag naby Green Gables in Noorderstraat gesien.
Mense het te voet gehelp soek, en Erika Edworthy en haar hond, Milly, het selfs Tinkie se spoor gevat waar sy laas gesien is, maar sy het spoorloos verdwyn.
Daarna het die leidrade opgedroog, totdat ‘n kuberskurk later Woensdagaand beweer het hy het Tinkie. Hy het toe probeer om die egpaar met ‘n slinkse plan te mislei om vir hom geld oor te betaal en hom by ‘n adres tussen Vereeniging en Deneysville te ontmoet.
Die leidrade het later opgedroog. Vir dae lank was dit ‘n geloofstryd vir Danie. Hoe kon só iets gebeur? Hoe kon mense haar gesien het, maar niemand het haar opgelaai nie? Sou sy koud en honger wees? Sou hulle Tinkie ooit weer sien?
Na dae se soek, het die boodskap Saterdagmiddag gekom van ‘n vrou wat gesê het haar man het Woensdag ‘n lang, hawelose man gesien met die hondjie onder sy arm, waar hulle in die rigting van die rivier gestap het.
Weer is Danie en Elize rivier toe. Elke paadjie wat Danie daagliks, sedert Tinkie weggeraak het, van Noorderstraat af tot by die rivier afgeloop het, het hy weer gestap. Hy het na haweloses gesoek. En toe kry hy die voetpad by die rivier wat hy voorheen nie kon vind nie. En daar, in Grewarlaan langs die rivier, lê Tinkie op ‘n kussing – sonder haar oranje jassie wat sy aangehad het toe sy verdwyn het – maar met Shaun, die hawelose man, langs haar.
“Dit was asof ‘n engel daar vir my gewag het,” vertel Danie.
Shaun het na hom gekyk en gesê: “Sir, you came for your dog.”

“Hoeveel keer het ek hier gesoek… oor hoeveel brue moes ek gaan, sonder om ‘n spoor van haar te kry. En hier was sy.”
Vir vier dae lank het Shaun hom oor Tinkie ontferm. Hy het haar kos gegee en warm gehou, en gewag dat iemand haar sou kom haal. “Ek het ‘n droom gehad Vrydagaand. Ek het haar gesien staan sonder haar jassie,” vertel Danie. “En net so was dit toe ek haar Saterdag met ‘n engel langs haar kry – sonder haar jassie, rustig, veilig en ongedeerd.”

“Sir, I wanted to go, but couldn’t go. I waited for you,” was Shaun se woorde. Nie een keer het hy vir geld gevra nie. Tog het Danie en Elize hom ‘n beloning gegee en belowe dat hy vir die res van sy lewe kos by hulle kan kom haal wanneer hy honger is. Want wat hierdie hawelose man vir hul hondjie gedoen het – en vir Danie en Elize beteken het – kan nie in woorde beskryf of in geld gemeet word nie.
“Die Here het ‘n engel oor ons pad gestuur,” sê Danie.



