Local newsNews

Afwesige stoptekens, padmerke – daar is al gewaarsku oor gevaar

Verskeie organisasies en partye het die afgelope maande al hul kommer uitgespreek oor die gebrek aan stoptekens en padmerke in woongebiede in Parys.

Skaars ‘n blok vanwaar ‘n oudleerder van Hoërskool Parys, Marnê Prinsloo, ses jaar gelede ernstig beseer is in ‘n motorongeluk, het ‘n Mercedes en ‘n Isuzu-bakkie Dinsdagmiddag by die kruising van Kort- en Wesstraat gebots. Met die impak van die botsing het die Mercedes die steen- en palisadeheining van een van die hoekhuise by die kruising getref.


Huurders van die huis waarteen die Mercedes gebots het, sê hulle het die afgelope maand minstens twee keer die afwesige stopteken en padmerke aan die teenoorgestelde kant van die kruising – vanwaar die Mercedes gekom het – gerapporteer.

By die kant van die Wes-/Kortstraatkruising is daar geen stopteken op padmerke Dinsdag sigbaar gewees nie. Foto: Liezl Scheepers
By die kant van die Wes-/Kortstraatkruising is daar geen stopteken of padmerke Dinsdag sigbaar gewees nie. Foto: Liezl Scheepers


Hoewel daar ‘n stopteken aan hul kant van die kruising is, is dit verbleik en is geen padmerke ook hier sigbaar nie.

Die enigste stopteken aan een van die kante van die kruising is verbleik en daar is geen padmerke by die twee kante van die kruising nie. Foto: Liezl Scheepers
Die enigste stopteken aan een van die kante van die kruising is verbleik en daar is geen padmerke by enige van die twee kante van die kruising nie. Foto: Liezl Scheepers


Nie een van die insittendes van die voertuie wat in Dinsdag se ongeluk betrokke was, is ernstig beseer nie, maar daar is groot skade aan beide voertuie.


Dolf van Niekerk, wat die Mercedes bestuur het, woon buite die dorp en het van sy werkers opgelaai. Hy was in Wesstraat onderweg na Mockelaan toe sy voertuig, en die splinternuwe dubbelkajuitbakkie van Hanno Taljaard in die kruising gebots het.

Die botsingstoneel Dinsdag op die h/v Kort- en Wesstraat. Foto’s: Liezl Scheepers


Van Niekerk het sagteweefselbeserings, onder meer aan sy bors, opgedoen, terwyl een van die werkers se arm beseer is.


Marnê se ongeluk was op die hoek van Unie- en Kortstraat, naby aan haar ouerhuis. Sy het die oggend van die botsing in Uniestraat gery, waar een van die stoptekens by die kruising met Kortstraat ook reeds vir ‘n geruime tyd afwesig was.


Dit het tot verskeie ernstige botsings by dié kruising gelei. Haar motor het met die impak van die botsing teen ‘n boom op die sypaadjie tot stilstand gekom en sy het ernstige hoofbeserings en bloeding op die brein opgedoen. Twee van haar rugwerwels is ook gebreek.


Maar dit is nie die enigste kruisings waaroor daar groot kommer is oor die afwesigheid van stoptekens en duidelike padmerke nie.


Die DA, VF Plus, SaveNgwathe en AfriForum het die afgelope maande herhaaldelik gewys op die gevaar weens verbleikte en afwesige verkeerstekens by verskeie kruisings in Parys se dorpsgebied.


Die DA het in Februarie onder meer die Ngwathe Munisipaliteit gevra om dringend aandag te gee aan kritieke verkeerstekens, insluitend stoptekens, toegeetekens, spoedbeperkingstekens, tekens by voetgangerkruisings en waarskuwingstekens wat ontbreek, verbleik, versper of gevandaliseer is.


Daar is toe reeds gewaarsku dat dit verwarring op die paaie veroorsaak, veral by besige kruisings, naby skole en in woongebiede, en die risiko van ongelukke aansienlik verhoog.


Daar is ook gesê dat die afwesigheid van behoorlike verkeerstekens onnodige druk op motorbestuurders, wetstoepassers en nooddienste plaas, terwyl dit die munisipaliteit blootstel aan vermybare voorvalle en aanspreeklikheid.


Die situasie is veral kommerwekkend vir Parys as toeristebestemming. Besoekers wat nie met die plaaslike paaie vertroud is nie, maak staat op duidelike en sigbare verkeerstekens, en swak padmerke stel lewens in gevaar terwyl dit ook die dorp se reputasie benadeel.


Hoewel verkeerskruisings altyd met die nodige versigtigheid genader moet word, en daar ook motoriste is wat hul gereeld skuldig maak aan die verontagsaming van stoptekens, is padtekens noodsaaklike infrastruktuur en nie ‘n luuksheid nie. Die verwaarlosing daarvan weerspieël swak munisipale dienslewering, het die DA vroeër in ‘n verklaring gesê.


Die burgerregte-organisasie AfriForum het in Mei verlede jaar 16 stoptekens vir Parys se hoofstraat aan die munisipaliteit oorhandig, maar ‘n jaar later is nog nie een van die stoptekens opgesit nie.


Ngwathe se munisipale bestuurder, dr. F.P. Mothamaha, het by navraag gesê die munisipaliteit gaan nie die stoptekens wat oorhandig is, opsit nie, en dat die munisipaliteit self die nodige padtekens sal aankoop.


Mothamaha kon egter nie ‘n aanduiding gee wanneer en hoeveel padtekens die munisipaliteit beoog om te koop nie.


Hoewel daar AfriForum-plakkers agterop die stoptekens was wat aan die munisipaliteit geskenk is, is bevestig dat AfriForum ingestem het dat die munisipaliteit die plakkers kon verwyder.


Ngwathe en AfriForum is egter reeds vir meer as ‘n jaar in ‘n hofgeskil betrokke nadat die burgerregte-organisasie ‘n dringende aansoek tot die Hooggeregshof gebring het om die munisipaliteit onder administrasie te plaas.


Verkeerstekens in die Ngwathe munisipale gebied word deur die munisipaliteit se tegniese afdeling hanteer, en nie deur die munisipale verkeersafdeling nie.


Met verlede week se ernstige vragmotorbotsing op die draai by Pine’s Antiques het inwoners ook gewys op die gebrek aan waarskuwingstekens wat vroeër op die staalversperrings was, juis om motoriste te waarsku.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button