SASSA minister besoek Parys
Verskeie regeringsdepartemente sal Vrydag personeel in Parys beskikbaar hê vir dienste soos aansoeke vir ID-kaarte, paspoorte, SASSA-dienste en basiese gesondheidsdienste.
Verskeie regeringsdienste waaronder die dienste wat deur SASSA en Binnelandse Sake gelewer word, sal Vrydag (29 Mei) vanaf 08:00 by die Master Nakedi Sportsentrum in Tumahole beskikbaar wees wanneer die waarnemende Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, me. Sindisiwe Chikunga, Parys besoek.
Die besoek vorm deel van die Geïntegreerde Gemeenskapsregistrasie-uitreikprogram (ICROP).
Naas SASSA en Binnelandse Sake sal maatskaplike ontwikkelingsdienste, die gesondheidsdepartement en die Nasionale Ontwikkelingsagentskap wat help met die registrasie van organisasies, personeel by die sportsentrum hê om mense te help met die onderskeie dienste wat deur die departemente gelewer word.
- Mense sal kan aansoek doen vir ID_kaarte en paspoorte en selfs basiese gesondheidsdienste sal die dag beskikbaar wees.
- Dit is ook ’n geleentheid om direk met die minister en ander senior amptenare te praat.
Wat moet jy saambring?
- Jou ID-dokument
- Ondersteunende dokumente vir die dienste wat jy benodig.
- Jou bankkaart – slegs elektroniese betalings word aanvaar.
Enigeen is welkom om Vrydag na die sentrum te kom vir hulp met dienste wat deur die onderskeie departemente gelewer word.



