Local newsNews

Pas bekend: Konstitusionele hof sit ook voet neer teen Ngwathe-aansoek

Die diensleweringshofstryd tussen AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het reeds in Desember 2024 begin.

Die konstitusionele hof het ook nou die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl teen ‘n vroeëre beslissing van die Vrystaatse Hoë Hof om die munisipaliteit onder administrasie te plaas en die munisipale raad te ontbind, met koste van die hand gewys. In die beslissing word gesê dat daar geen redelike vooruitsig op sukses vir Ngwathe se aansoek is nie.

Die uitgerekte hofstryd tussen AfriForum en die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit oor onder meer gebrekkige dienslewering aan inwoners van die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville het reeds in Desember 2024 begin.

Die aansoek het gelei tot regter J.P Daffue se opspraakwekkende uitspraak op 20 Junie 2025 toe in die Vrystaatse Hooggeregshof as deel van ’n gestruktureerde interdik beveel is dat die munisipale raad ontbind moet word, en die Vrystaatse provinsiale regering onmiddellik by die munisipaliteit moet ingryp.

Maande later kon die bevel nog nie tot uitvoer gebring word nie nadat die Ngwathe munisipaliteit, die Ngwathe raad en die munisipale bestuurder, dr. F.P Mothamahe  in Augustus 2025 aansoek om verlof tot appèl tot die hooggeregshof gerig het. Die aansoek is met ‘n kostebevel teen Ngwathe van die hand gesit.

Daarna het Ngwathe ‘n petisie tot die Appèlhof gerig, maar is bevind dat daar ‘geen redelike vooruitsig van sukses in ’n appèl is nie’,  en dat daar geen ander oortuigende rede is waarom ’n appèl aangehoor behoort te word nie – weereens met ‘n kostebevel teen Ngwathe.

AfriForum het toe in Oktober 2025 ‘n Artikel 18(3)-aansoek tot die hof gebring om te vra dat regter Daffue se oorspronklike uitspraak teen die munisipaliteit geïmplementeer word hangende die munisipaliteit se aansoek om appèl tot die konstitusionele hof. Uitspraak in dié aansoek is egter in Februarie vanjaar deur regter Ingrid Opperman voorbehou.

In die lig van die konstitusionele hof beslisssing sal die Artikel 18(3) aansoek egter nou verval en moet die oorspronklike beslissing van regter Daffue geïmplementeer word.

Dit is onseker wat die totale hofkoste van die saak nou reeds beloop, maar het AfriForum vroeër al sy kommer uitgespreek oor wat die burgerregte organisasie beskryf het as verkwisting van belastingbetalers se geld aan hofprosesse wat uitsluitlik daarop gemik is om tyd te wen.

Wat het regter Daffue se uitspraak bepaal

Kragtens regter Daffue se oorspronklike uitspraak is bepaal dat die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

* ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;

* die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;

* en ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Daffue het bevind dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering met die implementering van die bevel.

Voorts is beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum wat die aansoek na die hof gebring het, se regskoste moet betaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button