Local newsNews

Armand Swart-moord: Polisiekaptein kry borg

Die saak is uitgestel tot 20 Augustus vir verdere ondersoek.

‘n Kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, wat as ervare ballistiese kenner betrokke was by die ondersoek ná die opspraakwekkende moord van Armand Swart (30) in 2024 buite die ingenieursfirma, Q-Tech Engineering Company in Vereeniging, is vandag vrygelaat op borgtog van R15 000.

Kkaptein Itumeleng Laurence Makgotoe (54), staan tereg op klagte van medepligtigheid aan die moord op Swart, en die onwettige besit van ammunisie. Hy is verbonde aan die polisie se Forensiese Wetenskaplaboratorium.

Die borgtogvoorwaardes wat vandag in die Pretoriase Landdroshof uiteengesit is, bepaal dat Makgotoe nie toegang tot sy werksplek mag hê nie, die ondersoekbeampte vooraf moet inlig voordat hy enige polisiestasie besoek, nie met die ondersoek of getuies mag inmeng nie, en sy paspoort binne vyf dae aan die ondersoekbeampte moet oorhandig.

Volgens Lumka Mahanjana. die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se streekwoordvoerder in Gauteng, word beweer dat Swart op 17 April 2024 in sy voertuig buite sy werkplek by Q-Tech Engineering Company gesit het toe die insittendes van ‘n ander voertuig wat oorkant hom geparkeer was, na bewering op hom losgebrand het nadat hy verkeerdelik aangesien is as fluitjieblaser van Transnet-tenderbedrog.

Swart is noodlottig gewond. Die verdagtes het van die toneel gevlug maar het die polisie later dieselfde dag twee verdagtes in hegtenis geneem en beslag gelê op ‘n vuurwapen en ammunisie.

Tydens die polisie ondersoek is die vuurwapen en ammunisie wat na bewering tydens die moord gebruik is, op 9 Mei 2024 aan Makgotoe oorhandig vir ballistiese ondersoek.

Volgens bewerings het Makgotoe ná die ondersoek onakkurate verslae aan sy meerderes voorgelê, wat hy later teruggehaal en nooit terugbesorg het nie. Daar word verder beweer dat hy ook die vuurwapen en ammunisie verwyder het om verdere ondersoek te voorkom en dit nooit teruggegee het nie.

In Februarie 2026 het Makgotoe voor die Madlanga-kommissie getuig oor die moord op Swart. Ná verdere ondersoekwerk is hy op 24 Mei 2026 by sy woning in hegtenis geneem.

Die staat het sy vrylating op borgtog teengestaan en aangevoer dat die beskuldigde met getuies en die ondersoek kan inmeng, asook bewyse kan wegsteek aangesien hy ‘n polisiebeampte is. Die landdros het egter bevind dat dit in die belang van geregtigheid is dat die beskuldigde op borgtog vrygelaat word.

Die saak is tot 20 Augustus uitgestel vir verdere ondersoek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button