Vier gearresteer vir verkiesingsverwante voorvalle tydens registrasienaweek
In die Vrystaat provinsie is daar egter geen misdaadverwante voorvalle tydens die registrasienaweek aangemeld nie.
Vier persone is die afgelope naweek in die Noordwes-provinsie in hegtenis geneem in verband met verkiesingsverwante voorvalle gedurende die registrasienaweek.
Polisiewoordvoerder kolonel Adéle Myburgh sê die eerste voorval is aangemeld in die Klipgat informele nedersetting naby Klerkskraal, waar die polisie twee verdagtes, onderskeidelik 38 en 48 jaar oud, asook ’n 16-jarige minderjarige, gearresteer het vir openbare geweld nadat hulle na bewering probeer het om te verhoed dat ’n stemlokaal Saterdag 20 Junie oopmaak.
In ’n tweede, onverwante voorval Saterdag in Wolmaransstad is ’n 35-jarige verdagte gearresteer nadat hy na bewering ’n amptenaar van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gedreig, en die amptenaar beveel het om die stemlokaal te sluit en te verlaat. Die verdagte is aangekla van intimidasie ingevolge die Kieswet, Wet 73 van 1998.
Al vier verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.
Die Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (PROVJOINTS) het in die terugvoer na die registrasienaweek egter alle rolspelers en gemeenskapslede gelukgewens met hul samewerking en ondersteuning tydens die kiesersregistrasienaweek in die Noordwes-provinsie.

Hoewel aanhoudende reën toegangsuitdagings by sommige stemlokale in Noordwes veroorsaak het, is geen misdaadverwante voorvalle Sondag 21 Junie aangemeld nie. .
Die Waarnemende Provinsiale Polisiekommissaris, Majoor-generaal (Dr.) Ryno Naidoo, het gesê die suksesvolle afsluiting van die kiesersregistrasienaweek toon die belangrikheid van samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe, regeringsbelanghebbendes en gemeenskappe.



